SA’ner hardloop sy tweede volle Comrades op trapmeul

Morné Basson. Foto: Verskaf.

Sondag het duisende drawwers van oor die wêreld die eerste virtuele Comrades-wedloop aangedurf. Die verdedigende vrouekampioen, Gerda Steyn, het in 43 °C ’n rustige 21 km in Dubai gehardloop; terwyl die legendariese Bruce Fordyce 10 km gedraf het.

Maar as daar een Suid-Afrikaner is wat ’n interessante Comrades-storie het, dan is dit Morné Basson.

Basson het in 1996 vir die eerste keer op ’n trapmeul by die destydse Health and Racquet Club in Klerksdorp gehardloop. Sedertdien het hy ’n wêreldrekord opgestel deur 72 agtereenvolgende halfmarathons (21,1 km) op ’n trapmeul kaf te draf.

In 2015 het hy die eerste persoon ter wêreld geword om die volle Comrades-marathon op ’n plesierskip se trapmeul in Alaska te hardloop. Sondag het hy sy tweede 90 km-sessie op ’n trapmeul aangedurf.

Boonop is vanjaar se tyd van 09:56:01 effens vinniger as sy eerste probeerslag.

“’n Goeie tyd is nie vir my so belangrik nie – dit was destyds moeilik om op die skip te oefen, terwyl vanjaar se afsonderingstydperk gesorg het dat my oefening ook nie heeltemal volgens plan verloop het nie,” het hy aan Maroela Media gesê.

Basson is ’n bekende in liefdadigheidskringe. Hy hardloop gereeld ten bate van motorneuronsiektelyers en vanjaar het hy die #Bthat1-inisiatief ter ondersteuning van The Character Company begin.

“Vanjaar se virtuele Comrades was beslis iets anders gewees. Dit is ’n splinternuwe konsep en ek glo dit is hier om te bly. Soveel mense sien nie kans om die ‘regte’ wedloop aan te durf nie, maar wil steeds graag deel wees van die aksie.

“Ek haal my hoed af vir die Comrades-organiseerders wat iets positiefs uit ’n moeilike situasie gemaak het; dis iets wat ek altyd in my eie lewe probeer doen.”

Morné Basson het 72 halfmarathons in 72 dae ten bate van motorneuronsiekte-lyers voltooi. Foto: Facebook.

Op YouTube-video’s is daar altyd ’n insetsel waar iemand van ’n trapmeul tuimel. Is hy nie bang om af te val nie – veral as hy 90 km hardloop?

“Dit verg ongelooflik baie konsentrasie; mens kan lekker moeg word. Die moontlikheid is altyd daar dat jy dalk te naby aan die kant hardloop en dit is beslis ’n sielkundige uitdaging. Ek het darem nog nooit geval nie – dalk omdat ek daaraan gewoond is om op ’n bewegende skip te hardloop.”

Hy het vir die wedloop voorberei deur onder meer 72 km teen 6 km/h op die trapmeul te stap – dit is presies 12 uur se stapwerk.

Sy volgende uitdaging is net so ambisieus.

“Daar wag nóg ’n uitdaging oor 72 dae op my. Ek wil daagliks 72 km op ’n stilstaande fiets ten bate van The Character Company trap.

“Ek is nie ’n buitengewone atleet nie. Ek is ’n normale ou met baie wilskrag; om op te gee is glad nie ’n opsie nie. Ons kan nie elke dag almal help nie, maar ons kan wel daagliks iemand help.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lorette ·

Ja, so hardloop my seun en gesin toe ook hulle Comrades. Agv die inperking kon hy nie oefen soos gewoonlik nie met die simpel tye waarin geoefen mag word. Hy is Ess Serv en moet vroeg by werk wees. Maak klaar, maar boetie baie ongelukkig oor hy nie se 5 km kon voltooi nie. Snaaks, want hy voltooi gereeld sy Parkrun! Toe pappa kyk, was boetman se tyd op MYLE gestel en nie KM nie. Het toe heelwat verder gedraf as wat hy gedink het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.