SA’ner laat ’n wêreldrekord al drawwend spat

Rupert van Vuuren. Foto: Verskaf.

Op ’n dag in September 2019 het Rupert van Vuuren (46) net besluit hy gaan draf. Nie soseer om fikser te word of om gewig te verloor nie, maar om mense bewus te maak van die Brain Child Fund, ’n niewinsgewende organisasie wat gesinne met gestremde kinders met mekaar verbind om ’n ondersteuningsnetwerk te vestig.

In die proses het Van Vuuren nou twee wêreldrekords agter sy naam. Eerstens het dit hom net 347 dae geneem om 365 marathons (van 42,2 km elk) te voltooi, terwyl hy Rob Young van Engeland se rekord van 370 marathons in ’n kalenderjaar verpletter het.

Van Vuuren het op 16 September 2020 sy 384ste marathon voltooi. En dit is op hierdie rekord waarop hy die trotsste is.

“Dit was ’n groot verrassing vir my gewees en ek het aanvanklik glad nie van die rekord geweet nie. Ek het vooraf vir myself gesê dat ek nie op rekords moet konsentreer nie, want dan gaan ek dit nooit maak nie; daar moet ’n groter prentjie wees. Maar dit is nogal lekker om ’n Engelsman te laat les opsê!” het hy aan Maroela Media gesê.

Foto: Verskaf.

Hy wil met sy bewusmakingsveldtog 1 000 agtereenvolgende marathons hardloop; ’n doelwit wat iemand se program om 5 km binne ’n maand suksesvol te draf na ’n kleuterskool-inkleurprojek laat lyk.

“Vir gesinne met kinders met gestremdhede is daar daagliks dinge wat onmoontlik lyk. Soms laat finansiële uitdagings ’n broodnodige rolstoel, doktersbesoek of aanpassing onmoontlik lyk. Om moed op te gee is egter nie vir hierdie ouers ’n keuse nie. Hulle het nie hul marathon gekies nie, tog volhard hulle. Waarom sou ek dan ophou hardloop?”

Maar daar is natuurlik uitdagings. Hy het al vir sy biokinetikus gesê dat hulle tyd sal spaar as sy eerder vir hom vra waar hy nie ’n skeet het nie, terwyl sy liggaamsvet-persentasie al gevaarlik laag was. O ja, dan hardloop hy ook vir die afgelope vier maande met ’n liesbesering.

Tog trek hy steeds daagliks sy tekkies aan en sukkel by die trappe af; gereed om nóg ’n marathon aan te pak.

“Ek vergelyk myself al met ’n dieselenjin: Dit mag dalk ’n rukkie neem om warm te word, maar ons loop lekker as ons eers op spoed is,” het hy laggend gesê.

“Ek het myself al seker ’n honderd keer afgevra waarom ek dit doen. Maar dan herinner ek myself net weer dat dit ’n ongelooflike voorreg is om te kan draf; al vermoed ek dat ek soms seker soos ’n karakter uit die een of ander zombie-storie moet lyk as ek die lang pad aandurf.”

Foto: Verskaf.

Die Brain Child Fund en sy liefde om te hardloop motiveer hom dan.

“Om te hardloop is ’n uitbeelding van wie ek werklik is. Ek probeer om doelbewus die wind, son en reën op my vel te voel, want dit is ’n ongelooflike voorreg.”

Wat gaan hy doen as hy sy duisendste marathon klaar gehardloop het?

“Dit sal waarskynlik die dag wees wanneer ek weer iets alkoholies mag drink!” skerts hy.

“Eerlikwaar, ek probeer om nie te veel daaraan te dink nie en ek probeer eerder om een dag op ’n slag suksesvol aan te pak. Gaan ek die mylpaal bereik? Ek is redelik seker daarvan, ja.”

Volgens Van Vuuren het sy drafspoed ongetwyfeld oor die afgelope jaar verbeter – hy kan byvoorbeeld nou ’n myl vinniger as in sy skooldae kafdraf. Ouderdomsgewys vergelyk sy tye ook met van die beste atlete ter wêreld.

Maar vir eers wil hy net daardie ekstra treetjie gee. En dit alles vir liefdadigheid.

  • Sy hardloopstatistieke (soos op 20 September 2020):

Hy het al 16 362 km – dit is 11 keer die afstand tussen Pretoria en Kaapstad – gehardloop en nege paar tekkies laat les opsê. Van Vuuren het al 1 646 uur gehardloop en amper 180 000 m geklim.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.