SA’ners skitter by Diamantliga

Luvo Manyonga. Foto: AP Photo/Natacha Pisarenko

Luvo Manyonga en Ruswahl Samaai het Suid-Afrika se naam hoog gehou by die Diamantliga-reeks in Londen.

Die twee verspringers het die kollig gesteel tydens die tweede dag van die 11de ronde van die reeks. Manyonga het sy eie beste afstand van die jaar geëwenaar toe hy met sy vierde sprong 8.58 m gespring het vir die eerste plek. Manyonga het sodoende ook die byeenkomsrekord verbeter. Samaai se sprong van 8.42 m het hom die tweede plek besorg.

Die 16-jarige Ntando Mahlangu het die 200 m in die T61-afdeling in 23.56 sekondes gewen. Lebogang Shange het die Suid-Afrikaanse rekord vir die 3 000 m-stap verbeter en tweede geëindig in 10:47.08.

Akani Simbine het brons verower in die 100 m in ʼn tyd van 9.94 sekondes. Die Amerikaners Ronnie Baker het gewen in 9.90 sekondes. Simbine het tydens die uitdunne sy beste tyd vir die seisoen, 9.93 sekondes, aangeteken.

Ruswahl Samaai. Foto: AP Photo/Matt Dunham

Rikenette Steenkamp het vyfde in die uitdunne vir die 100 m-hekkies geëindig in ʼn tyd van 13.05 sekondes. Die Amerikaner Kendra Harrison het die finaal in 12.36 sekondes gewen.

Steenkamp het vroeër die maand ʼn uitstekende vertoning gelewer by die Wêreldbeker-atletiekbyeenkoms in Londen. Sy het goud in die 100 m-hekkies verower nadat sy die wenstreep in 12.88 sek. oorgesteek het.

Antonia Alkana het vyfde geëindig in die 110 m-hekkies in 13.40 sekondes, met Roland Levy van Jamaika wat goud gevat het in 13.13 sekondes.

Ncincilili Titi het sewende geëindig in 200 m in ʼn tyd van 20.44 sekondes. Akeem Bloomfield van Jamaika het gewen met ʼn tyd van 19.81 sekondes.

Die 12de ronde van die reeks vind van 18 Augustus in Birmingham, Engeland plaas.

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.