Semenya wen goud; SA derde beste op Wêreldkampioenskappe

Caster Semenya wen Sondagaand SA se derde goud. (Foto Facebook Iaaf)

Caster Semenya het Sondagaand in die 800 meter Suid-Afrika se derde goue medalje by die Wêreldkampioenskappe in Londen gewen.

Dit was die Suid-Afrikaner se derde goue medalje wat sy op die twee grootste internasionale byeenkomste gewen het: die wêreldkampioenskappe in Berlyn in 2009, by die Rio Olimpiese Spele verlede jaar, en Sondagaand.

Die pas was vanuit die staanspoor warm met die teenstanders wat gehoop het om daarmee die eindpoging van Semenya te neutraliseer. Die voorlopers is in 27 s deur die 200-grens, en in net oor 57 s toe die klok lui met Semenya nog in die bondel.

Semenya het so teen 180 m van die wenpaal af geleidelik begin opskuif na die derde posisie, en het oor die laaste 60 m werklik oopgemaak om gemaklik te wen. Sy het oor die laaste sowat 100 meter ses meter op haar teenstanders gewen en nie-amptelik 57.8 s oor die tweede ronde gehardloop..

Semenya se wentyd van 1:55:16 is haar vinnigste nóg en is die agste vinnigste tyd wat nog in die 800 m aangeteken is. Dit was ook die vinnigste tyd van die jaar.

Al agt die atlete het Sondagaand die afstand onder 1:59:00 voltooi, vir ʼn hele paar van hulle ook die vinnigste tyd van ook húlle loopbane.

♦  Met die derde goue medalje, wat die twee van Luvo Manyonga in die verspring en Wayde van Niekerk in die 400 m insluit, het Suid-Afrika wat goue medaljes betref die derde meeste na die VSA (10) en Kenia (5) gewen.

Hulle drie goue medaljes is gelyk aan dié van Frankryk, maar die Suid-Afrikaanse span het meer silwer medaljes (en ook in die geheel) as die Franse gewen en eindig dus derde.

Dit is ʼn merkwaardige prestasie. Lande soos ondermeer Ethiopië, Groot Brittanje & Ierland, Duitsland en die Tsjeggië spog met minder goue en ander medaljes as Suid-Afrika.

Dit is veral indrukwekkend as dit vergelyk word met Brittanje se twee goues en twee silwer medaljes nadat die Britte vyf jaar gelede by die Londense Spele so goed gevaar het.

♦  Suid-Afrika se Lebogang Shange het Sondag vierde in die 20 km-padloop in ʼn SA rekordtyd van 1:19:04 geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Waghond ·

Sy is ongetwyfeld een van die beste atlete in SA atletiekgeskiedenis. Wel gedaan Caster. Ons is trots op jou! ???

Therese van Schalkwyk ·

‘n Studie deur die IAAF en WADA (World Anti-Doping Agency) het bevind dat vroue met ‘n hoër as normale hoeveelheid testosteroon ‘n definitiewe voordeel bo ander vroue het.
Medikasie wat die natuurlik teenwoordige testosteroon verlaag na aanvaarbare vlakke is sedert 2015 nie meer verpligtend nie.
‘n Onverklaarbare besluit deur die owerhede, want enige redelike persoon moet erken dat die kompetisie onder vroue hierdeur blatant onregverdig beïnvloed word.
Die bevinding van die studie doen ongelukkig afbreuk aan Caster Semenya se puik prestasies. Atletiek-owerhede, nie die atleet nie, moet die blaam hiervoor dra.

Therese van Schalkwyk ·

Naskrif:

Gelukkig is elkeen geregtig op ‘n eie opinie oor regverdige mededinging op sportgebied.

Ons het genadiglik nog nie ‘n “Charlottesville, Virginia”-stadium bereik nie.

Kiepie ·

Theresa van Schalkwyk dink jy regtig die speelveld is gelyk in die mans-afdeling? Dink jy regtig Usain Bolt het dieselfde ginetiese samestelling as die res van die mans wat vir meer as ‘n dekade meegeding het om die tweede plek? Maar net omdat Caster ‘n vrou is wat met natuurlike hoë testosteroonvlakke “geseën” is moet sy en ander soos sy nou gekniehalter word. Moet ons dan nie maar na ‘n voorgee stelsel begin kyk sodat die minder-geseënde atlete so ‘n paar tree voorsprong kry sodat ons verseker almal gaan gelyk oor die wenstreep nie?

pbotha ·

well done…Caster!!! Jy het my weer daai trotse gevoel gegee gisteraand!

Ag Therese…en almal wat heeltyd teem oor haar en haar situasie…kom vir n slag oor dit en wees net mooi met haar en haar prestasies. Ons het min genoeg om aan vas te hou in SA.

En vir die rekord…daar was n paar minder “vroulike” atlete as Caster wat ek ook opgemerk het op die baan in hierdie week.

Tharina ·

Ek stem saam met pbotha…

Therese: As Caster so groot voordeel getrek het sou sy die wêreldrekord ook maklik gehou het. So sy is ook maar net ‘n gewone atleet wat in haar tyd een van die bestes is.

Baie trots op hierdie span van SA!! Ongelooflike goeie prestasie!

wesley ·

Lees maar die storie oor Eero Antero Mäntyranta, Finland se top ski atleet in die 60’s en 70’s, en hoe n bloed mutasie hom geweldige voordeel oor sy mede-atlete gegee het (glo meer as die ou skramse 4 persent wat nou die studie bevind het in Caster se saak). En as ons nou rerig wil, kan ons kyk na hoe Bolt se lang bene en ligaam struktuur hom voordeel dalk kan gee. Is dit nou so verkeerd om so gebore te word en dan daai voordeel te gebruik?

Mense is verskillend, party beter gebou en gemaak deur ons Skepper vir sekere doeleindes en talente. Nie almal kan dieselfde great en beste wees nie. Maar dit beteken nie harde werk is ook nie nodig om die beste te word in wat jy doen nie. Solank jy NATUURLIK deur jou talente dit bereik, soos wat Caster het. Wel gedaan aan Caster vir die harde werk om te bereik wat sy het, al het God haar so gemaak om hierdie voordeel en talent uit te leef.

Marlene ·

Mooi Caster! Jy is die goue meisie wat ons trotse burgers maak. ?????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.