Semenya wen SA se derde medalje by Wêreldkampioenskappe

Caster Semenya het Maandagaand in Londen by die Wêreldkampioenskap in die, vir haar ongewone, 1500 m Suid-Afrika se derde medalje gewen.

Sy het soos gewoonlik oor die laaste 100 meter uitgehaal om van agter ʼn streep atlete agter te laat.

Semenya het letterlik ʼn meter voor die wenstreep die derde plek ingeneem in die wedloop waar die atlete die eerste sowat 1000 meter redelik stadig gehardloop het.

Haar gewone kragpoging het miskien ʼn raps te laat gekom – maar die vaart van die laaste 500 meter was sodanig dat dit te betwyfel is dat Semenya nog woema sou oorgehad het as sy gouer begin het.

Sy was na die wedloop duidelik moeg na die langer nommer.

Die beroemde Genzebe Dibaba, wat die afgelope tyd op padwedlope konsentreer,  het laaste van die 12 atlete in die eindronde geëindig.

Die wedloop is deur die Olimpiese kampioen van Kenia, Faith Chepngetich Kipeygon, in 4:02:59 gewen. Jennifer Simpson van die VSA was tweede in 4:02:74 en Semenya se tyd was 4:02:90.

♦  Wayde van Niekerk, wat by die byeenkoms sal probeer om die 200 m sowel as die 400 m te wen, het Maandag sy uitdun die 200 verspot-maklik gewen.

Daniel Talbot en Wayde van Niekerk al laggende net duskant die wenstreep in hulle 200 m-uitdun (Foto Facebook World Athletic Club)

Van Niekerk en die VK se Daniel Talbot is al glimlaggende vir mekaar oor die wenstreep toe hulle heelwat voor die res van die uitdun se deelnemers by die wenpaal aangekom het.

Al drie die Suid-Afrikaners het in hulle uitdunne na die semi-finaal deurgedring, maar die 19-jarige Clarence Munya is gediskwalifiseer nadat bevind is hy het om die draai op ʼn lyn getrap. Hy was derde oor die eindstreep in sy uitdun.

Akani Simbine het teen die einde soos Van Niekerk sy pas verslap.

Van Niekerk het 20,16 s aangeteken en Simbine het met 20,26 in die tweede plek in sy uitdun oor die wenstreep gehardloop.

♦  Van Niekerk hardloop Dinsdagaand (22:50) in die finaal van die 400 m waar hy die gunsteling is maar skielik ʼn paar relatiewe nuwe uitdagers het wat hom op sy tone sal hou.

♦  Maandagaand het Wenda Nel in die vierde uitdun van die 400 m-hekkies tot Dinsdagaand (21:35) se die semi-finaal deurgedring. Sy het tweede in 54,47 s in haar uitdun gehardloop.

SA se atlete wat Dinsdag deelneem

20:30: vroue 200 m-uitdunne: Justine Palframan
21:35: vroue 400 m-hekkie semi-finaal: Wenda Nel
22:50: mans 400 m-finaal: Wayde van Niekerk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.