Sheryl verbeter Afrikarekord in 100 m-uitdun

Sheryl James spog met haar brons medalje in die 400 m-item. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se Sheryl James is besig om met ’n rits skittervertonings in Tokio vorendag te kom.

Die 35-jarige atleet het sopas vir die 100 m (T37)-eindronde gekwalifiseer met haar tyd van 13,58 sekondes. Dit is nie net haar persoonlike beste tyd in dié item nie, maar sy het terselfdertyd ook die Afrika-rekord verbeter.

Vroeër het sy vierde in die 200 m geëindig, terwyl sy die brons medalje in die 400 m verower het.

“Ek het hierheen gekom om in ’n eindronde te hardloop, ’n persoonlike rekord te verbeter en om ’n medalje te wen. Ek is so bly ek kon al my doelwitte bereik het,” het sy ná haar bronsmedaljevertoning gesê.

Sy het die vyfde vinnigste kwalifiserende tyd gehardloop, terwyl China se Wen Xiaoyan die vinnigste atleet in die uitdunrondes was.

Atlete wat tot die 100 m-eindronde deurgedring het:

Wen Xiaoyan (China) 13,26 sekondes

Jiang Fenfen (China) 13,34 sekondes

Jaleen Roberts (VSA) 13,41 sekondes

Mandy Francois-Elie (Frankryk) 13,48 sekondes

Sheryl James (Suid-Afrika) 13,58 sekondes

Nataliia Kobzar (Oekraïne) 13,85 sekondes

Viktoriia Slanova (Russiese Paralimpiese Komitee) 13,88 sekondes

Sabina Sukhanova (Oesbekistan) 13,91 sekondes

  • In die verspring-item vir T64-atlete het Mpumelelo Mhlongo vyfde geëindig. Sy vierde sprong van 6,80 m was sy beste van die seisoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Richard

Baie geluk!