Simbine aan die brand met Afrika-rekord

Akani Simbine. Foto: GB Jordaan

Akani Simbine is ongetwyfeld goed op dreef met sy voorbereiding vir die Olimpiese Spele nadat hy gisteraand in Hongarye die Afrika-rekord in die 100 m tot ’n blitsige 9,84 sekondes verbeter het.

Toe die Tukkies-atleet oor die wenstreep geblits het, het hy nie net Olusoji Fasuba (9,85 sekondes) se vorige Afrika-rekord verbeter nie, maar terselfdertyd ook vinniger as Asafa Powell (9,86 sekondes) se byeenkomsrekord gehardloop.

Simbine is vanjaar die tweede vinnigste man op aarde – net die VSA se Trayon Bromell (9,77 sekondes) het al ’n vinniger tyd as die Suid-Afrikaner in ’n 100 m-wedloop gehardloop.

Die 27-jarige naelloper het vroeër vanjaar by die Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Pretoria weliswaar ’n tyd van 9,82 sekondes behaal, maar ’n wind-hupstoot het beteken dat dit nie as ’n amptelike Suid-Afrikaanse rekord aangeteken kon word nie.

Maar waar die wind dalk toe ’n inskrywing in die rekordboeke gekeer het, het dit beslis wondere vir sy selfvertroue beteken.

“Ek het na die nasionale kampioenskap gekom met een doelwit voor oë en dit is om vinnig te hardloop. Die volgende uitdaging is nou om aan te hou werk om selfs vinniger te word,” het Simbine gesê.

En dit is presies wat hy gisteraand in Hongarye gedoen het. Benewens sy heldedaad in die 100 m het hy ook die 200 m in ’n tyd van 20,25 sekondes gewen.

Simbine neem Vrydag aan ’n Diamantliga-byeenkoms in Monaco deel en dit sal beslis as ’n kleedrepetisie vir die Olimpiese Spele in Tokio dien. Ses van die atlete wat daar by die 100 m-wegspringblokke sal aantree, het die item al vanjaar in minder as 10 sekondes kafgedraf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Frank

Sjoe, fantastiese tyd!

Elmarie

Wonderlik baie geluk Simbine!!

piet

Dit wil gedoen wees, daar was darem ‘n paar vinnige Nigeriers vantevore.