Simbine blink, maar waar was Manyonga?

Akani Simbine in aksie tydens ‘n vorige byeenkoms. Foto: AP Photo/Mark Schiefelbein

Daar was een soetlekker oomblik vir Suid-Afrikaanse atletiekondersteuners, maar dit was nou nie ʼn dag om heeltemal oor gaande te raak vir die ander SA atlete wat Saterdag in Sjanghai in China aan vanjaar se tweede Diamantliga-atletiekbyeenkoms deelgeneem het nie.

Twee derde Diamantliga-plekke teen die room van die bestes, is darem sekerlik ook nie te versmaai is nie.

Akani Simbine het vir een van die byeenkoms se groot hoogtepunte gesorg hoewel hy derde was in die 100 m vir mans.

Die eerste vier atlete, die Amerikaners Noah Lyles en Chris Coleman (albei 9,86), Simbine (9,95) en die Brit Reece Prescod (9,97) het al vier onder 10 sekondes gedraai. Hoeveel keer gebeur dit?

Coleman was blitsig oor die eerste 50 meter, maar Lyles het sy neus voorgekry en net-net gewen.

Lig die hoed vir Simbine, want om derde teen die naelloopbrekers te eindig, is geen geringe prestasie nie.

Daar is vooraf baie geskryf, gepraat en gewag gemaak van Luvo Manyonga se aanslag in die verspring vir mans, maar hy het toe nie eens deelgeneem nie.

Ruswahl Samaai (8,14 m) was op die ou einde derde en Zarck Visser (7,90 m) sesde.

Tajay Gayle van Jamaika was eerste met ʼn beste sprong van 8,24 m, gevolg deur Jianan Wang van China (8,16 m) en dan Samaai.

In die spiesgooi vir vroue was Sunette Viljoen in ʼn teleurstellende agtste plek met twee gooie van 57,56 m. Viljoen se seisoenbeste is 61,22 m, ver agter haar persoonlike beste van 69,35 m. Lyu Huihui van China was eerste (66,89 m), Lina Muze van Letland tweede (64,787 m) en Christine Hussong van Duitsland derde (64,10 m).

In die 100 m-hekkies vir mans was Antonio Alkana (13,47) agtste. Die wedloop is gewen deur die Jamaikaan Omar McLeod wie se tante aan wie hy baie geheg was, slegs 24 uur voor die byeenkoms gesterf het. McLeod het deurgedruk en hoewel hy halfpad kwaai deur China se Wenjung Xie uitgedaag is, het hy foutloos oor die laaste drie hekkies geseil om in 13,12 sekondes te wen.

Ander atlete wat eerste was, sluit in Aleie Hobbs (100 m vir vroue in 11,03), Katerina Stefanidi van Griekeland in die paalspring vir vroue (4,72 m), Rababe Arafi in die 1 500 m vir vroue (4:01.15), Eiud Naser in die 400 m vir vroue (50,65) en Yomif Kejelcha in die 5 000 m vir mans (13:04.16).

Dan het Chase Ealey die gewigstoot vir vroue met ʼn gooi van 19,58 m gewen, Abdi Samba was eerste in die 400 m-hekkies vir mans (47,80) en Yu Wang het die hoogspring vir mans met ʼn hoogte van 2,28 m gewen. Fred Kearly was eerste in 44,81 s in die 400 m vir mans.

*Clarence Munayi van SA was derde in die 200 m vir mans in 20,37 s maar dit was nie ʼn Diamantliga-item nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae