Simbine hardloop wéér vinniger as 10 sekondes!

Akani Simbine (Foto: Reg Caldecott)

Ten midde van sportbyeenkomste wat links en regs weens die nuwe koronavirus afgelas word, het Akani Simbine weer eens sy staal gewys.

Suid-Afrika se vinnigste man oor die 100 m het gedurende gister se Gauteng-Noordkampioenskap onder andere tye van 9,91 sekondes en 10,01 sekondes in sy spesialis-item gehardloop.

Boonop was daardie uitdunrondetyd van 9,91 sekondes slegs 0,02 sekondes stadiger as sy Suid-Afrikaanse rekordtyd van 9,89 sekondes. Dit was die 25ste keer in sy loopbaan dat hy vinniger as 10 sekondes gehardloop het.

Sodoende het hy definitief vir die Olimpiese Spele later vanjaar in Tokio gekwalifiseer. Indien dit natuurlik voortgaan, bygesê.

Groot internasionale sportgeleenthede, waaronder die Meesters op die Augusta-gholfbaan, die Superrugbyreeks en verskeie internasionale sokkerwedstryde, is reeds weens Covid-19 afgelas. Die Olimpiese organiseringskomitee hou egter voet by stuk dat dié internasionale skouspel nie uitgestel sal word nie.

Tog is enigiets moontlik en die situasie kan binne ’n oogwink vernder.

“As ’n atleet kan ek net fokus op die dinge wat binne my vermoë is om te beheer. Ek sal elke keer my beste gee wanneer ek oefen en die geleentheid het om deel te neem. Ek wil op my sterkste wees as die Olimpiese Spele wel voortgaan.  Jy kan nie ophou oefen bloot omdat jy dink dit sal gekanselleer word nie,” het Simbine gesê.

“Ek wou gister vinnig gehardloop het en dit is baie opwindend dat ek my seisoen met ’n tyd van 9,91 sekondes kon afskop. Tog was daar ’n paar tegniese punte waaraan ek gerus kan werk.”

Henrico Bruintjies was tweede in die finaal met sy tyd van 10,08 sekondes, terwyl Phatutshedzo Maswanganyai ’n nuwe Suid-Afrikaanse juniorrekord in die 100 m opgestel het.

Hy het ’n blitsige tyd van 10,06 sekondes in die semi-finaal gehardloop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Wow, dis ‘n b aie goeie tyd, Hy gaan nog groot hoogtes bereik

Belinda ·

Baie oulike nederige atleet, hy gaan nog baie groot hoogtes bereik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.