Simbine mik vir vier in ’n ry

Akani Simbine. Foto: Reg Caldecott.

Daar is vanjaar ’n bietjie ekstra perdekrag in Akani Simbine se spykerskoene. Die Tuks-atleet is vanjaar nog onoorwonne by internasionale byeenkomste nadat hy ook gisteraand die 100 m-item in Switserland gewen het.

Simbine was eerste oor die wenstreep met sy tyd van 10,02 sekondes. Dit was sy derde agtereenvolgende oorwinning in die internasionale arena. Die laaste keer wat hy só iets kon vermag, was in 2015.

As hy dus môre in Rome wen, sal dit vir ’n lekker loopbaanhoogtepunt sorg: Vier agtereenvolgende internasionale oorwinnings sal enige atleet laat glimlag.

Maar net soos in enige Verimark-advertensie is daar selfs ’n ekstra meevallertjie wat op hom wag indien hy gou genoeg spring.

Die Rome-byeenkoms sal waarskynlik sy laaste van 2020 wees en ’n goue medalje in die Italiaanse hoofstad kan beteken dat hy sy seisoen ook onoorwonne sal afsluit.

Simbine het in Maart goud tydens die Gauteng-Noordkampioenskap met ’n blitsige tyd van 9,91 sekondes gesmaak. Hy het voortgegaan om ’n verdere ses wedlope – insluitend kwalifiserende rondes – te wen.

Daardie einste kampioenskaptyd maak van hom die gunsteling om môre in Rome met die louere weg te stap. Om die waarheid te sê sal selfs gisteraand se tyd van net ’n rapsie stadiger as 10 sekondes vir hom ook die goue medalje besorg.

Wat veral verblydend vir Suid-Afrikaanse atletiekondersteuners moet wees, is dat hy met elke Europese wedloop vinniger geword het.

In Frankryk was sy wentyd 10,19 sekondes, gevolg deur ’n tyd van 10,17 sekondes en toe gisteraand se 10,02 sekondes.

Die Ivoorkus se Arthur Cisse kan egter vir teenstand sorg – sy beste tyd is 9,93 sekondes wat hy verlede jaar in Duitsland gehardloop het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.