Simbine wen, Nel vierde in Italië

Akani Simbine in aksie by gisteraand se Diamantliga-byeenkoms. Foto: Stefano Rellandini/AFP.

Suid-Afrika se Akani Simbine was gisteraand stadig uit die blokke by die Diamantliga-byeenkoms in Italië, maar hy het steeds die 100 m met sy tyd van 10,08 sekondes gewen.

“Daar was vandag geen ander planne as om te wen op die spyskaart nie. Dit was my eerste wedloop sedert die nasionale kampioenskap ’n paar weke gelede en ek was gereed vir aksie,” het Simbine gesê.

Volgens die Tukkies-naelloper loop sy selfvertroue-beker oor en ’n baie goeie tyd is om die draai; hopelik betyds vir die Olimpiese Spele.

Dit was sy vierde sege by ’n Diamantliga-byeenkoms en hy het in die pylvak vir Ujah Chijindu en Emmanuel Matadi getroef.

Wenda Nel. Foto: Phill Magakoe/AFP.

Anders as in die verlede het hy ook nie swaar gedra aan die etiket as die gunsteling om die wedloop te wen nie. Hy het die bykomende druk trouens verwelkom.

“Ek sou vantevore ongelooflik gespanne gewees het, maar deesdae beskou ek die etiket as motivering. Mense glo in my vermoë en ek gebruik dit weer om die spoednaald verder in die rooi te druk.”

Dan het Suid-Afrika se 400 m-hekkieskampioen, Wenda Nel, vierde in haar item geëindig met haar tyd van 55,20 sekondes.

Hoewel sy vooraf gesê het dat sy wil poog om die stophorlosie in minder as 55 sekondes te stop, is sy steeds tevrede met haar prestasie.

“Ek het nou al geleer dat as ek gereeld wedlope van 55 sekondes kan draf, is dit net ’n kwessie van tyd voordat die deurbraak-wedloop plaasvind. Dit sal baie lekker wees om weer ’n wedloop van 54 sekondes te hardloop!”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.