Spoedvrate laat die rekords spat!

Clarence Munyai (Foto: @produkes, Twitter)

Verskeie nasionale rekords het tydens vanjaar se Suid-Afrikaanse Senior Atletiekkampioenskappe in Pretoria in die slag gebly. Die byeenkoms is Saterdagaand ná drie dae met die 4×400 m-aflos afgesluit.

Clarence Munyai het ʼn splinternuwe SA-rekord in die 200 m daar gestel toe hy Wayde van Niekerk se rekord van 19.84 sekondes na 19.69 sekondes verbeter het.

In die 100 m vir vroue se halfeindwedloop het Carina Horn die SA-rekord van 11.06, wat sedert 1990 gestaan het, na 11.03 sekondes herskryf. Justine Palframan het in die 200 m (22.97) asook in die 400 m (51.31) goud ingepalm.

Thando Dlodlo het die 100 m junior-rekord na 10.11 sekondes verbeter. Dlodlo het ook saam met die junior-uitnodigingspan die 4×100 m-rekord vir o-20’s herskryf na 39.46. Simon Magakwe het die 100 meter finaal in 10.07 gewen met Thando Dlodlo (10.15) en Henricho Bruintjies (10.15) onderskeidelik tweede en derde.

Chris Harmse het sy 23ste nasionale titel verower toe hy die hamergooi met ʼn afstand van 70.69 m gewen het. Die goue medalje in die diskus vir mans is deur Victor Hogan ingepalm toe hy met ʼn afstand van 61.42 m geslaag het. Lynique Beneke het vir die sesde keer goud in die verspring gewen met ʼn sprong van 6.22 m.

Caster Semenya het goud gewen in die 800 m, 1 500 m asook 4×400 m aflos. Wenda Nel het op haar beurt die 400 m hekkies-titel opgeraap. Haar wentyd was 55.01 sekondes. Zeney van der Walt was tweede in ʼn tyd van 55,05 sekondes wat ʼn nuwe nasionale junior-rekord asook Afrika-rekord is.

In die verspring vir mans het Luvo Manyonga geseëvier met ʼn sprong van 8.41 m. Ruswahl Samaai was tweede en Zarck Visser derde.

Die fokus verkuif nou na die derde Grand Prix-byeenkoms wat op Donderdag 22 Maart in die Paarl aangebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.