Een van die wêreld se voorste naellopers, Jamaika se Yohan Blake, sê hy sal nie toelaat dat hy teen Covid-19 ingeënt word nie.
Hoewel die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) nie atlete dwing om die entstof te neem nie, het hy steeds sy stem oor die onderwerp dik gemaak.
“Ek wil dit nie hê nie. Ek sal liewer die Olimpiese Spele misloop as om die entstof te neem. Ek wil nie verder daaroor uitbrei nie, maar daar is redes vir my besluit,” het Blake aan die Jamaikaanse media gesê.
Blake se beste tyd in die 100 m is ’n blitsige 9,69 sekondes en hy was een van Usain Bolt se grootste teenstanders op die atletiekbaan.
Die 31-jarige het reeds twee goue medaljes by die Olimpiese Spele gewen en die Tokio-skouspel sal die derde en laaste keer wees dat hy deel van die aksie is.
“Volg jou hart en nie die skare nie,” het hy later in ’n video op sosiale media gesê.
Intussen het Seiko Hashimoto, Tokio 2020-president, gesê sy droom daarvan dat toeskouers by die Spele toegelaat sal word.
Hulle sal egter aan beperkings en regulasies onderhewig wees.
- Die vinnigste 100 m-tye in die geskiedenis:
- Usain Bolt 9,58 sekondes
- Usain Bolt 9,63 sekondes
- Usain Bolt 9,69 sekondes, Yohan Blake en Tyson Gay
- Tyson Gay 9,71 sekondes
Blake het ook twee keer in sy loopbaan ’n tyd van 9,75 sekondes gehaal.