Strawwe teenstand na Twee Oseane se wenstreep verwag

Caroline Wöstmann, verdedigende kampioen (Foto: twitter)

Nadat die onlangse Kaapstadse fietswedren weens ʼn stormsterk wind afgelas moes word, word daar ideale weer verwag vir sekerlik die mooiste ultra-padwedloop ter wêreld, die Twee Oseane, wat vroeg Saterdagoggend in Hoofstraat by Nuweland begin.

Die marathon, wat 56 km verder by die Universiteit van Kaapstad eindig, sal in sonskynweer maar nie te warm temperature nie en ʼn ligte wind gehardloop word.

Die wenner van die ultra-wedloop sal moontlik een van die twee Zimbabwiërs, Mike Fokoroni  en Collen Makuza, wees. Fokoroni het verlede jaar gewen terwyl Makuza in 2015 en 2016 tweede was.

Fokoroni het dit die week beklemtoon dat daar nie net twee atlete is wat kan wen nie en dat ultra-wedlope onvoorspelbaar is. Hy is redelik ontwykend oor sy eie planne vir die wedloop.

Die twee atlete van Zimbabwe kan egter taai teenstand van Suid-Afrika se Mthandazo Qhina en Lungile Gongqa verwag – en natuurlik van die ander besoekende atlete.

♦  As Caroline Wöstmann (die Suid-Afrikaanse gunsteling) weer soos in 2016 en 2015 eerste oor die wenstreep is, sal sy slegs die vierde atleet word wat die driekuns in die 47 jaar van die ultra-wedloop kon behaal.  Siphile Gqele (1983-1985), Monica Drögemöller (1990-1992) en Angelina Sephooa (1997-1999) het drie keer na mekaar gewen.

Wöstmann pak die Twee Oseane as deel van haar voorbereiding vir die Comrades aan. Sy het in 2015 ʼn sensasie veroorsaak deur die Comrades ook te wen.  In 2016 het sy tweede in die Comrades geëindig na sy met erge krampe oor die laaste kilometers voortgesukkel het.

Wöstmann se afrigter Lindsey Parry sê as haar teenstanders haar Saterdag toelaat om voor te hardloop waar sy haar eie pas kan kies, kan sy weer die Twee Oseane wen.

Wöstmann sal dit egter nie maklik hê nie. Verskeie kenners beskou die  Belarus Marina Damantsevich, wat aan haar eerste Twee Oseane deelneem, as die gunsteling.

Tanith Maxwell behoort ook tussen die voorlopers te eindig. Haar mede-Suid-Afrikaner en verlede jaar se Comradeswenner, Charné Bosman, moet ook nie buite rekening gelaat word nie.

Daar is ʼn hele aantal buitelandse deelnemers in die vroue-afdeling en veral die Afrika-atlete kan hier nie liggekyk word nie.

♦  Benewens die gewone prysgeld wat aangebied word, is daar ʼn bonus van R1 miljoen vir die man en/of vrou wat die huidige rekords verbeter.

Die mans se rekord (3:03:44 ) is in 1988 deur Thompson Magawana opgestel. Frith van der Merwe se vroue-rekord van 3:30:36 staan sedert 1989.

Toe hierdie rekords opgestel is, het die wedloop met ʼn afdraande geëindig. Die laaste 14 km is nou baie moeiliker as wat dit vroeër was.

♦  Daar word ook ʼn halfmarathon gehardloop en verskeie ander wedlope van verskillende lengtes oor die Paasnaweek.

Die verdedigende kampioene in die halfmarathon sal hulle titels verdedig –  Namakoe Nkhasi van Lesotho in die mansafdeling en die Suid-Afrikaner Irvette van Zyl.

♦  Ongeveer 30 000 atlete van oor die wêreld neem aan die onderskeie afdelings van die Twee Oseane deel, wat ondermeer veldwedlope insluit.

♦  Die finansiële inspuiting vir Kaapstad vir die Twee Oseane-marathon word op sowat R650 miljoen geraam en daar word 100 000 besoekers in die stad verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.