Suid-Afrika hét wêreldklas atlete

Caster Semenya het die Suid-Afrikaanse-rekord in die 1 000 m na 2:35:43 verbeter (8 Maart 2018). Foto: Roger Sedres/ImageSA/Gallo Images

Die algemene publiek besef nie aldag dat Suid-Afrika ʼn krag in wêreldatletiek is nie. Dit is Donderdagaand weer duidelik bewys tydens die tweede byeenkoms van die nuwe Grand Prix Atletiek-reeks in Pretoria. Ons Suid-Afrikaanse atlete het nie net die aand oorheers nie, maar ʼn paar atlete het uitstekende tye en afstande behaal.

Caster Semenya het die Suid-Afrikaanse-rekord in die 1 000 m na 2:35:43 verbeter.

Anaso Jobodwana het die wêreldkampioen, Justin Gatlin, in die 150 m geklop.

Ruswahl Samaai het in die verspring geslaag met ʼn sprong van 8,24 m en Akani Simbine het die 100 m in 10,05 gewen.

Semenya het die 1 000 m-rekord van Ilse de Kock Wicksell van 2:37.20, wat in 1983 opgestel is, na 2:35:43 verbeter. Semenya sal aanstaande week tydens vanjaar se Nasionale Kampioenskap fokus op die 800 m asook die 1 500 m.

Akani Simbine was vir die eerste keer die seisoen op die baan en het ʼn uitstekende tyd van 10,05 in die 100 m opgestel. Simbine het in die proses met Clarence Muyai en Simon Magakwe afgereken. Simbine sê hy sien uit na die SA-kampioenskap wat volgens hom ʼn goeie voorbereiding vir die Statebond Spele sal wees.

Anaso Jobodwana het die wêreldkampioen, Justin Gatlin, in die 150 m geklop (8 Maart 2018). Foto: Reg Caldecott/ANA

Anaso Jobodwana het op sy beurt met die 100 m-wêreldkampioen, Justin Gatlin, in die 150 m afgereken. Jobodwana se tyd was 15,08 sekondes. Dit was Gatlin se eerste 150 m-wedloop van sy lewe en hy kon net vierde eindig. Roscoe Engel was tweede en Luxolo Adams derde.

Ruswahl Samaai het in die verspring ʼn wenafstand van 8,24 m behaal. Samaai het sy oorheersing in die item duidelik gemaak deur vyf keer verder as 8 m te spring. Cheswill Johnson en Zarck Visser kon nie die 8 m-meter merk oorsteek nie.

Die ander item-wenners op die aand sluit in George Manangoi (800 m), Meike Strydom (gewigstoot), Isaac Makwala (300 m), Patrick Duvenhage (diskus), Joshua Cheptegei (3 000 m), Nicholas Bett (mans 400 m-hekkies), Jo-ane van Dyk (spiesgooi), Wenda Nel (400 m hekkies), Justine Palframan (200 m vroue), Marga Cumming (hamergooi) en Antonio Alkana (110 m-hekkies).

Die derde en laaste byeenkoms in die Grand Prix-reeks word op 22 Maart in die Paarl aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Realistiese Drawwer ·

Om die 1000m rekord met ~1.8s te verbeter….?
Dit gaan baie lank staan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.