Hulle mag dalk nie oor dieselfde roem as ’n Roland Schoeman, ’n Llewellyn Herbert of ’n Penny Heyns beskik nie, maar die Suid-Afrikaanse atlete wat gereeld aan die Wêreldoorplantingspele deelneem, is eintlik die ware ambassadeurs van die Groen-en-goud.
Dié Spele is in 1978 van stapel gestuur om nie nét suksesvolle mediese oorplantings te vier nie, maar óók die lewe.
Een van Suid-Afrika se deelnemers by vanjaar se Spele in Engeland is die 80-jarige Johan Roos van Bellville.
Roos het 20 jaar gelede ’n hartoorplanting in die Groote Schuur-hospitaal ondergaan, ná dokters hom net 11 maande gegee het om te leef. Boonop het sy hart twee keer net voor die prosedure gaan staan.
“Ek was nooit seker of ek die son die volgende dag sou sien opkom nie. Ek het nie geweet of ek die volgende dag, uur óf minuut nog sou leef nie. Maar toe ek op 7 November 1999 met ’n nuwe hart wakker word, het ek geweet dat ek ’n tweede kans gekry het,” het Roos gesê.
Hy sal later vanjaar in Newcastle (Engeland) aan onder meer die diskus-, spiesgooi- en gewigstootitems deelneem.
“Ek is waarskynlik een van die oudste oorplantingspasiënte om by die Spele in aksie te wees. Dit is selfs ’n groter voorreg om Suid-Afrika te verteenwoordig: dit is immers hier waar die eerste suksesvolle hartoorplanting destyds deur dr. Christiaan Barnard gedoen is.”
As daar ’n atleet is wat Roos kan raad gee, is dit die Hoërskool Kanonkop-juffrou, Suretha Campher.
Sy is ’n veteraan van drie Spele en het in dié tydperk al sewe goue medaljes (waaronder in die 100 m en 200 m) losgehardloop.
Hoewel sy vanjaar se byeenkoms gaan misloop, besef sy die belangrikheid van die Spele vir oorplantingspasiënte.
“Dit is wonderlik om te sien hoe mense wat deur ongelooflike swaar tye en trauma is weer vreugde vind in sport en samesyn. Almal wat daar is, kan deel in iets wat hulle elkeen persoonlik ervaar het, maar hul families en vriende nie noodwendig verstaan nie,” het Campher aan Maroela Media gesê.
Sy het in 2010 begin blind word weens hoë bloeddruk omdat daar geen nierfunksie was nie.
“Dokters kon nie biopsies doen nie omdat die niere te klein was en aangesien medikasie nie gehelp het nie, het ek met dialise begin. Dié behandeling was ook nie doeltreffend nie en ’n oorplanting was die enigste manier om my aan die lewe te hou.”
Haar ma was uiteindelik die geskikte skenker, maar ook dít was nie sonder komplikasies nie.
Haar liggaam het die nier verwerp en vyf plasma-uitruilings is gedoen; waar haar eie plasma met ’n skenker s’n vervang is.
Hoewel sy lewenslank op medikasie is, kan niks haar van haar reuseglimlag beroof nie. En haar glimlag word net groter as sy weer by die Oorplantingspele kan hardloop en voluit kan leef.
Ongelooflik!
Inspirasie vir ieder en elk.