Superheldin Irvette wil nóg vinniger

Irvette van Zyl. Foto: Verskaf/Cuan Walker.

Wonder Woman het gister in Port Elizabeth nie ’n paar stewels en ’n skild gedra nie; sy was eerder getooi in tekkies en in die kleure van ’n Nedbank-atleet.

Irvette van Zyl was gister Suid-Afrika se eie superheldin toe sy in Nedbank se Runified: Breaking Barriers-wedloop die 50 km-wêreldrekord verbeter het met ʼn tyd van 3:04:23.

Die vorige rekord van 3:07:20 was agter die Brit Aly Dixon se naam.

Soos wat enige persoon met baie lewenservaring vir jou sal sê: Spontane oomblikke sorg dikwels vir die beste herinneringe. En Irvette se rekord-tekkieklapsessie was so onverwags en lekker soos ’n onbeplande vakansie see toe kort nadat dominee amen gesê het.

Sy en Gerda Steyn, die Comrades-marathonkampioen, sou aanvanklik vir die eerste 30 km van die wedloop net as pasaangeërs opgetree het.

Maar hier by die 28 km-kerf het Irvette laat weet dat sy nou hopeloos te lekker hardloop en aangedui dat sy vir nog ’n rukkie voor sal wil voortstoom.

Op koers na die wenstreep het sy haar afrigter, die Comrades-legende Nick Bester, gewaar.

“Ek het na hom beduie en gevra of ek moet stop of aangaan, waarop hy ‘go’ geantwoord het. Ek het tot by die einde baie goed gevoel,” het Irvette vir Maroela Media gesê.

Net ná die 34 km-kerf het sy besluit dat sy gaan hardloop om die wedloop te wen en ’n paar kilometer later het sy besef dat die wêreldrekord binne trefafstand is.

“Om eerlik te wees; die prestasie is nog besig om in te sink. Maar vandag is ongetwyfeld ’n reusehoogtepunt in my hardloop-loopbaan, want verlede jaar – op 25 Mei – het ek ’n knieoperasie ondergaan en ek het gedink dat ek nooit daarvan sou terugbons nie.”

Die groot vraag is egter: Kan sy die spoednaald selfs verder in die rooi druk?

“Ek glo so,” is die onmiddellike antwoord.

“Ek dink ’n wedloop van minder as drie uur is beslis haalbaar.”

Sy het saam met Steyn reeds vir die Olimpiese Spele in Tokio gekwalifiseer en sy sien baie na die internasionale sportskouspel uit.

“Ek geniet my hardloop en ek waardeer elke dag wat ek kan hardloop. Ek glo die afrigterskuif na Nick het ook baie gehelp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.