Talentvolle Rikenette gaan SA geskiedenis maak

Rikenette Steenkamp gaan haar bes in Doha gee. Foto: Reg Caldecott.

Wanneer Rikenette Steenkamp volgende week oor die eerste hekkie in Doha seil, sal sy Suid-Afrikaanse atletiekgeskiedenis maak.

Dié Tukkies-atleet sal die eerste Suid-Afrikaner word om aan die 100 m-hekkies by ’n Wêreldkampioenskap deel te neem.

Maar die nasionale rekordhouer sal poog om haar geskiedenisboek-inskrywing effens langer te maak deur ook goed te presteer. Met ander woorde, sy sal nie net in Doha wil opdaag nie; sy sal ook haar beste gee om ’n top-posisie los te hardloop.

Sy word wyd en syd gereken as een van die land se talentvolste atlete, maar ongelukkig kniehalter beserings haar gereeld. Sy moes byvoorbeeld reeds drie keer vanjaar haar pad ná ’n besering oopveg.

Tog is sy oorgehaal om haar beste in Doha te gee. “In atletiek moet jy elke geleentheid met albei hande aangryp en boonop is ’n item soos die 100 m-hekkies baie onvoorspelbaar,” sê sy.

“Enigiets kan op enige oomblik gebeur en dit is wat my motiveer. Ek glo dat die atmosfeer in Doha – om voor duisende passievolle toeskouers te hardloop – elektries gaan wees en dat dit my sal inspireer om vinnige tye te hardloop. Ek wéét ek kan vinniger as 13 sekondes hardloop.”

Steenkamp het verlede jaar die nasionale rekord na 12,81 sekondes verbeter. Die oudleerling van Hoërskool Menlopark se kanse kan goed wees om vir die Doha-eindstryd te kwalifiseer.

Die tye in dié item by die 2016 Olimpiese Spele in Rio de Janeiro vergelyk heel goed met Steenkamp se beste.

’n Tyd van 12,88 sekondes sou vir haar die brons medalje in Rio besorg het.

Maar Steenkamp weet dat sy op haar skerpste moet wees indien sy haar stempel in Doha wil afdruk.

“Die standaard van die 100 m-hekkiesatlete is ongelooflik vanjaar. Jamaika se Danielle Williams het al klaar ’n tyd van 12,32 sekondes gehardloop en ’n verstommende 31 ander atlete het reeds vinniger as 12,80 sekondes gehardloop.”

Sy sal op 5 Oktober in Doha in aksie wees.

  • Ander vroue-atlete wat by die Wêreldkampioenskap gaan deelneem is Tebogo Mamatu (100 m), Dominique Scott (5000 m en 10 000 m), Zenéy van der Walt (400 mh) en Sunette Viljoen (spiesgooi).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jacques ·

Ons bid vir jou Rikinette. Mag jy jou beste resies ooit hardloop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.