Tekkies gaan by Voortrekkermonument klap

Die Voortrekkermonument gaan Saterdag ’n miernes van bedrywighede wees. Foto: Verskaf.

Die Voortrekkermonument-halfmarathon spring dié Saterdag om 06:00 by die monument in Pretoria weg. Dit is vanjaar die tweede keer dat die wedloop aangebied word en dit het sy ontstaan te danke aan die Voortrekkermonument se 80ste verjaardagviering.

Die roete is binne die terrein van die Voortrekkermonument en sy natuurreservaat, en hoewel die wedloop nog in sy kinderskoene staan, is dit reeds bekend as een van die uitdagendste roetes in die Jakarandastad.

Dit sluit van die bekendste landbakens in. Afgesien daarvan dat atlete vir die grootste deel van die wedloop die monument in sig sal hê, lei die roete ook deelnemers verby die Muur van Herinnering, die Erfenissentrum, Fort Schanskop, die Danie Theron-standbeeld en die amfiteater.

Die wedloop vind grotendeels op die teerpad en geplaveide paaie rondom die monument plaas, maar die trappe van die amfiteater is ook op die spyskaart.

Verder sal ’n asemrowende uitsig oor die hoofstad en die ryk natuurlewe binne die reservaat se grense tot die wedloop se atmosfeer bydra. Deelnemers sal beloon word met ’n pragtige medalje wat die monument se verjaardag vier.

  • Die wedloop word deur die Voortrekkermonument Draf-en-stapklub georganiseer, terwyl dit deur BECS Services geborg word.
  • Dit is ook die eerste omgewingsvriendelike wedloop in Pretoria wat beteken dat daar met die gebruiklike watersakkies weggedoen word. Deelnemers word daarom versoek om hul eie bottels na die wedloop te bring. Daar sal verskeie stasies op die roete wees waar die bottels gevul kan word.
  • Afstande: 21,1 km, 10 km en 5 km.
  • Wegspringtye: 06:00 (21,1 km en 10 km); 06:15 (5 km).
  • Inskrywings: Aanlyn inskrywings kan by entrytime.com gedoen word (sluit 20 November). Andersins kan daar Vrydag (22 November) vanaf 14:00 tot 18:00 by die monument ingeskryf word, asook op die oggend van die wedloop vanaf 04:00 tot 06:00.
  • Vir meer inligting oor die wedloop, besoek vtmklub.co.za, stuur ’n e-pos na [email protected] of skakel 071 405 5588.
  • Die Voortrekkermonument is op 16 Desember 1949 ingehuldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.