Topname op 8 Maart in die blokke!

Akani Simbine. Foto: Reg Caldecott/Gallo Images/ANA

Wayde se wêreldrekord word geteiken.

Die tweede byeenkoms van die nuwe Grand Prix Atletiek-reeks word Donderdagaand by Tukkies se atletiekstadion in Pretoria aangebied. Verskeie groot name sal hul staal toon. Lui Justin Gatland, Akani Simbine, LJ van Zyl en Henricho Bruintjies dalk ʼn klokkie?

Daar is veral fokus op die ongewone 300 m-wedloop. Wayde van Niekerk hou die wêreldrekord van 30.81 sekondes wat hy in Ostrava op 28 Junie 2017 behaal het. Nog net drie atlete kon dit saam met Wayde regkry. Die ander twee was Michael Johnson en Usain Bolt. Botswana se Isaac Makwala fokus daarop om ʼn tyd van minder as 31 sekondes aan te teken. Makwala het verlede week die 400 m by Ruimsig in Roodepoort gewen.

Die 100 m vir mans lok ook baie belangstelling deurdat Suid-Afrika se 100 m-rekordhouer, Akani Simbine, aan sy eerste wedloop die seisoen sal deelneem.

Clarence Munyai. Foto: Reg Caldecott/Gallo Images/ANA

Hy sal rekening moet hou met die SA Junior 200 m-rekordhouer, Clarence Munyai, die Wêreldjeugkampioen in die  200 m, Retshiditswe Mlenga, en die voormalige SA 100 m-rekordhouer, Henricho Bruintjies.

Sibine het die 100 m reeds 15 keer onder 10 sekondes afgelê terwyl Henricho Bruintjies ook al deur die magiese merk van 10 sekondes in die 100 m gebreek het. Simbine spog met ʼn beste tyd van 9.89 sekondes wat hy in Julie 2016 in Hongarye behaal het. Hy was vyfde by die Rio- Olimpiese Spele in 2016 en ook vyfde by die Wêreldkampioenskapreeks in Londen.

Die wêreld se 100 m-kampioen, Justin Gatlin, het bevestig dat hy aan die 150 m-wedloop in Pretoria sal deelneem.

Die voorprogram begin Donderdag om 18:00 en die hoofprogram om 19:00.

Die derde en finale byeenkoms word op 22 Maart in die Paarl aangebied. Die prysgeld vir die drie byeenkomste beloop R1 365 000.

Kaartjies vir die byeenkomste is aanlyn te koop: http://www.webstickets.co.za/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.