Twee van SA hardloop goud los in Diamantliga

Akani Simbine, wenner in die 100 m-naelloop. (Foto: Reg Caldecott/ANA)

Twee Suid-Afrikaanse atlete het Vrydag in Doha goud by die IAAF se eerste Diamant-ligabyeenkoms van die 2017-seisoen losgehardloop.

Daar was ʼn paar uitstekende vertonings op die byeenkoms waaraan 16 Olimpiese- en Wêreldkampioene deelgeneem het. Met die oog op die Wêreldkampioenskappe later vanjaar in Londen sal hierdie elite-byeenkomste die atlete op hulle tone hou en bydra dat hulle op die regte tyd piek.

Caster Semenya het die 800 m in 1:56.61 gewen met Margaret Wambui van Kenia in die tweede plek in 1:57.03. Die wêreldrekordhouer oor 1500 m, Genzebe Dibaba van Ethiopië, het aan haar eerste 800 m deelgeneem en vyfde geëindig. Haar tyd was 1:59.37.

Die atlete wat vir die100 m vir mans  aangetree het, het groot name soos Asafa Powell, Justin Gatlin en André de Grasse ingesluit, maar Suid-Afrika se Akani Simbine het in 9.99 s eerste oor die wenstreep genael. Powell  van Jamaika was tweede in 10.08 s.

Dit was Simbine se vierde tyd onder 10 s vanjaar.

Semenya en Simbine het elkeen agt ligapunte met hulle oorwinnings verdien.

LJ  van Zyl was derde in die 400 m-hekkies. Sy tyd was 49.49 s en Cornel Fredericks het met sy 49.96 s ʼn vyfde plek  behaal. Die wentyd van Abderrahman Samba van Katar was 48.44.

♦  Die spiesgooi was sekerlik die hoogtepunt van die aand. Thomas Röhler van Duitsland, die 2016 Olimpiese kampioen, het die spies ʼn allemintige 93.90 m gegooi – die tweede verste in die atletiekgeskiedenis. Net Jan Zelezny het al verder gegooi. Sy wêreldrekord staan sedert 1996 op 98.48 m.

Nog ʼn Duitser, Johannes Vetter, was Vrydag tweede met ʼn goeie afstand van 89.68 m.

Die volgende byeenkoms is op 13 Mei in Shanghai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jannie ·

Om te dink die wereldrekord vir 100m staan op 9.58 sekondes, dink nie dit gaan gou verbeter word nie. Die wereldrekord vir spiesgooi gaan ook lank staan want die swaartepunt van die spiese is later aangepas.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.