Vatvyf , Paralimpiese span!

Sheryl James het Suid-Afrika se vyfde medalje by die Paralimpiese Spele in Tokio verower. Foto: Twitter.

Suid-Afrika het reeds vyf medaljes by die Paralimpiese Spele in Tokio ingeoes nadat Sheryl James gister die brons medalje in die 400 m (T37-kategorie) verower het.

James het haar lopie in 1:03:82 min. voltooi; ’n persoonlike beste tyd.

“Ek het hierheen gekom om in ’n eindronde te hardloop, ’n persoonlike rekord te verbeter en om ’n medalje te wen. Ek is so bly ek kon al my doelwitte bereik het,” het sy gesê.

Die 35-jarige atleet is vandag weer om 14:46 in die 100 m-uitdunrondes in aksie, terwyl Mpumelelo Mhlongo in die verspring-eindronde (13:25) te siene is.

Benewens James se heldedade het Ntando Mahlangu (verspringgoud met sy wêreldrekordsprong van 7,17 m), Anrune Weyers (goud in die 200 m), Pieter du Preez (goud in ’n handfietsry-item) en Louzanne Coetzee (brons in die 1 500 m) tot die land se medaljeoes bygedra.

Suid-Afrika is tans 29ste op die medaljepunteleer met sy vyf medaljes.

Du Preez – of “Supa-Piet” soos hy bekendstaan – het vandag agtste in die padresies (H1/2-kategorie) geëindig.

“Ek wil alle Suid-Afrikaners vir hul ondersteuning bedank; ek sou dit nie sonder julle kon doen nie. Een mens kan inderdaad ’n verskil maak en ek hoop dat hierdie vertoning julle sal inspireer,” het hy in ’n video-insetsel gesê.

  • Ander uitslae:

Ernst van Dyk: Agtste in die H5-padresies. Hy het die 79,2 km in ’n tyd van 2:36:23 h voltooi.

Kerwin Noemdo: Het vierde in die F46-gewigstootkategorie geëindig met sy poging van 15,65 m. Sodoende het hy die Afrika-rekord verbeter.

Charl du Toit: Die verdedigende Paralimpiese 400 m-kampioen (T37) het vyfde in die eindronde met ’n seisoentoptyd van 51,14 sek. klaargemaak.

Dyan Buis: Tiende in die eindronde van die T38-verspringitem. Sy beste sprong was 5,94 m.

  • Paralimpiese Spele 2020-medaljepunteleer:
  1. China 136 medaljes (64 goud, 40 silwer en 32 brons)
  2. Groot-Brittanje 82 medaljes (29 goud, 23 silwer en 30 brons)
  3. Russiese Paralimpiese Komitee 78 medaljes (26 goud, 17 silwer en 35 brons)
  4. VSA 67 medaljes (25 goud, 25 silwer en 17 brons)
  5. Nederland 35 medaljes (16 goud, 9 silwer en 10 brons)
  6. Oekraïne 70 medaljes (15 goud, 34 silwer en 21 brons)
  7. Brasilië 44 medaljes (14 goud, 11 silwer en 19 brons)
  8. Australië 55 medaljes (13 goud, 21 silwer en 21 brons)
  9. Italië 46 medaljes (11 goud, 19 silwer en 16 brons)
  10. Azerbeidjan 15 medaljes (10 goud, 1 silwer en vier brons

29. Suid-Afrika 5 medaljes (3 goud, 1 silwer en 1 brons)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elmarie ·

Die paralimpieseatlete hou ons naam hoog! Geluk aan elke liewe een wat so mooi presteer, ons is baie trots op julle!

ABDP ·

Hierdie klomp atlete KOOK!!!! Self die wat nie ‘n medalje wen nie, maar werklik baie baie goed presteer met hul persoonlike beste tye en afstande. Ek geniet hierdie paralimpiese spele baie meer as die olimpiese spele.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.