Verspringatlete sorg vir SA se eerste twee medaljes

Luvo Manyonga – van begin tot einde voor. (Foto: Facebook, IAAF)

Vir die atletiekwêreld was die laaste (individuele) wedloop van Usain Bolt Saterdag die hoogtepunt van die Wêreldkampioenskappe se tweede dag, maar vir Suid-Afrika tel die land se twee verspringmedaljes sekerlik meer.

Luvo Manyonga het die goue medalje in Londen gewen, en sy landgenoot Ruswahl Samaai het die bronsmedalje gewen in ʼn nommer waar die eerste sewe atlete 8.23 m of verder gespring het.

Manyonga het 8.48 m met die tweede van sy ses pogings aangeteken nadat hy met sy eerste reusesprong oorgetrap het; en Samaai het met sy voorlaaste sprong eers die derde plek met 8.27 m ingeneem. Dit was gelyk aan die enigste sprong van Aleksandr Menkov, wat egter weens sy oortrappery vierde geplaas is.

Toe het Samaai  met sy laaste vastrap 8.32 m verder geland om onteenseglik te bewys hy is tans die wêreld se derde beste.

♦  Caster Semenya is deur na die eindronde van die 1 500 m. Sy het Saterdag in die drie semi-finale die derde beste tyd opgestel.

Die 1 500 m-eindronde Maandagaand sal ʼn taai stryd afgee met die eerste agt atlete wat Saterdag tye opgestel het wat binne 2.5 s van mekaar is.

♦  Carina Horn het tot die 100 m semi-finaal Sondagoggend deurgedring. Die finaal is die heel laaste item Sondagaand.

♦   In die laaste wedloop Saterdagaand, die 100 m vir mans, het die charismatiese legende en ongetwyfeld die beste naelloper van alle tye, Usain Bolt, vir oulaas in die wegspringblokke gesak. Suid-Afrika se Akani Simbine was in dieselfde wedloop, iets wat hy eendag sal kan oorvertel.

Simbine het verras toe hy in sy vroeëre semi-finaal eerste oor die wenstreep genael het. Sy tyd was 10.05.

In die finaal was hy vyfde in 10.01. Die wedloop is in 9.92 s gewen deur die Amerikaner Justin Gatlin, met sy landgenoot Christian Coleman tweede (9.94) en Bolt derde (9.95).

Vroeër in die dag het Wayde van Niekerk, Suid-Afrika se Olimpiese kampioen en houer van die wêreldrekord in die 400 m, in sy uitdun oor die laaste 100 m uitgehaal en uiteindelik verspot maklik in 45.27 s gewen.

Daarmee is hy regstreeks deur na die semi-finaal Sondagmiddag.

Van Niekerk het oor die eerste 300 m net gesorg dat hy nie agterraak nie, maar toe in die pylvak oopgemaak.

Sy tyd was die derde stadigste van die ses uitdunne se wenners wat maar almal in ‘n mindere of meerdere mate hier teen die einde laat slaplê het. Daar is 15 atlete wat gekwalifiseer het met beter tye as Van Niekerk.

Hoewel die tye feitlik niksseggend is vir atlete wat hulle uitdunne gewen het, was Van Niekerk se vertoning toe hy oor die laaste 100 m ooplê moontlik die indrukwekkendste.

♦ In die gewigstoot het Suid-Afrika se Orazio Cremona (19.890 m) en Jaco Engelbrecht (19.51 m)  onderskeidelik 23ste en 27ste van die 32 deelnemers in die kwalifiserende ronde geëindig.

Thomas Walsh (22.14 m) van Nieu-Seeland was die voorste van die 12 kwalifiseerders vir die eindronde. 

Sondag se program –

12:55: mans: marathon: April Lusapho, Sibusiso Nzima, Desmond Mokgobu
14:15: mans: 110 m-hekkies, uitdunne: Antonio Alkana
15:00: vroue: marathon: Mapaseka Makhanya, Jenna Challenor
20:10: vroue: 100 m, semi-finaal: Carina Horn
20:40: mans: 400 m, semi-finaal: Wayde van Niekerk

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Mari ·

Geweldig. Harde werk het gelei tot hierdie mooi prestasies. Veels geluk

Mari ·

Geen kommentare op hierdie pragtige prestasies nie? O ja ek het vergeet dis goeie nuus! Niks om oor te kla nie. Veels geluk met die prestasies.

gerrie ·

Is jy verbaas dat swartatlete nie deur Maroela se verregses “gecheer” gaan word nie? Hulle is mos kwotas.

Rupert Ashford ·

Geluk aan die twee manne. Sterkte aan die res met uitdunne. Usian Bolt dankie vir alles oor die jare (geniet die rustyd en voorspoed met jou planne vir die toekoms, bly ‘n inspirasie) en baie geluk aan Justin Gatlin.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.