Video: Jong Amerikaanse atletieksensasie laat oë weer rek

Matthew Boling. Foto: Twitter.

Die jong Amerikaanse atletieksensasie, Matthew Boling, het onlangs ’n video op sosiale media gelaai waar hy sy verspringvaardighede ten toon stel.

Die 19-jarige atleet van die Universiteit van Georgia het verlede jaar die hoërskool-atletiekwêreld aan sy voete gehad toe hy die 100 m in ’n spogtyd van 9,98 sekondes afgeblits het.

Boling was in aksie by ’n streeksbyeenkoms in Houston toe hy dié warrelwindtyd opgestapel het. Hoewel dit die vinnigste 100 m-tyd van alle Amerikaners jonger as 20 jaar (ooit) is, geld dit nie as ’n amptelike rekord nie omdat hy ’n hupstoot van die wind gekry het.

Volgens die tydhouers het daar ’n wind van 4,2 m/ph (sowat 6,7 km/h) gewaai.

“Toe ek wegspring, het ek geweet dit gaan ’n vinnige tyd wees. Ek het die krane oopgedraai en besluit om my bes te lewer; ek is aangenaam verras met die tyd,” het Boling aan die Houston Chronicle gesê.

By dieselfde byeenkoms het hy gesorg dat sy span ook die 400 m-aflos wen. Sy individuele tyd was ’n blitsige 40,72 sekondes.

In sy jongste video het hy ’n pak van 80 plastiekkoppies aangeskaf en in die verspringput aangewend. Die video is al meer as twee miljoen keer gekyk.

Boling pak eerstens 30 koppies in ’n vertikale lyn in die verspringput en spring sonder moeite bo-oor. Hy pak met elke sprong meer koppies, totdat hy van al 80 gebruik maak.

En om 80 plastiekkoppies in perspektief te plaas: Dit is ’n sprong van 7,11 m wat hy met gemak regkry.

Verspring is egter nie ’n nuutjie vir Boling nie – hy is reeds twee keer as Texas-kampioen in dié item aangewys.

Tog is naellope sy passie en voor die Covid-19-pandemie het hy gereeld met medaljes huiswaarts gekeer.

Gedurende verlede jaar se o.20- Pan Amerikaanse Kampioenskap in Costa Rica het hy die 100 m en 200 m gewen, terwyl hy goue medaljes in die aflositems (4 x 100 m en 4 x 400 m) verower het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.