Wát ʼn belewenis om in die Kruger te draf!

’n Uniek halfmarathon-ervaring in die Kurgerwildtuin. (Foto: @zimbo_with_a_drone/Oasis Water)

Dit is ʼn Saterdagoggend in die Skukuza-kamp van die Krugerwildtuin. ʼn Vinnige (dalk ietwat senuweeagtige?) kyk na my horlosie bevestig dat dit 08:25 is.

Ja-nee, wegspringtyd is om die draai.

Terwyl ek nog die regte woorde probeer vind om my vrou te bemoedig – dit is immers haar eerste halfmarathon ooit – klief ʼn helikopter deur die lug en ʼn leeu brul met meer woema oor die luidsprekers as die maanhaarbielie van ʼn Metro-Goldwyn-Mayer-rolprent.

En daar trek ons!

Só ʼn bobaas wegspringervaring is teen die tyd al sinoniem met die Castle Lager-halfmarathon in die ikoniese Krugerwildtuin.

Glimlaggend op koers om die afsnypunt te tem.(Foto: @zimbo_with_a_drone/Oasis Water)

My eie drafstorie spog darem nou al met een of twee lekkerlees-hoofstukke. My roetes het my al links om die parkie en regs om die parkie geneem; na die polisiestasie en weg van die polisiestasie. Goeiste, daar was selfs ʼn kortstondige trapmeulsessie naby Mykonos gedurende ʼn MSC-bootvakansie.

Om dus vir Brenda van die Hotel-faam aan te haal – hierdie wedloop is beslis nie my eerste rodeo nie.

Die wedloop is goed georganiseer en deelnemers se veiligheid is ’n topprioriteit. Dit is immers leeuwêreld. (Foto: @zimbo_with_a_drone/Oasis Water)

Maar niks kan jou egter voorberei op die unieke ervaring van die Skukuza-wedloop nie. Veldwagters staan gereed by elke hoek en draai om jou veiligheid te verseker, die helikopter maak gereeld sy verskyning bo jou, terwyl die esprit de corps onder die vriendelike drawwers ʼn definitiewe hoogtepunt is.

Die afsnypunte – ná 4,5 km en 14/15 km – kan party drawwers dalk so ʼn bietjie laat frons, maar dit is uitdagings wat jy maklik met ʼn paar gereelde slukkies water, ʼn goeie Bybelversie om aan vas te klou en die korrekte geestelike ingesteldheid kan oorbrug.

“Die Skukuza-wedloop is vir my ʼn natuurbelewenis waar jy as’t ware van die stad se gedruis kan ontvlug. Die organisering is puik en almal is bosvriendelik,” sê Naas du Preez, die direkteur van Oasis Water wat ons deelname moontlik gemaak het.

En hy behoort te weet waarvan hy praat. Benewens die feit dat Oasis een van die wedloop se hoofborge is, is hy self ook ʼn kranige drawwer wat die wedloop onder die voorste 100 deelnemers voltooi het.

Die Oasis Water-deelnemers. (Foto: @zimbo_with_a_drone/Oasis Water)

ʼn Vinnige pluimpie vir Oasis: Ons het in hul amptelike spandrag gehardloop en baie deelnemers het ons vriendelik gegroet, al drawwend ʼn geselsie aangeknoop en gevra waar die volgende waterpunt is.

Maar terug na die wedloop. Is dit doenbaar?

Beslis.

Moet jy ʼn bietjie vooraf oefen?

My vrou – wat tot en met die Skukuza-avontuur nog nooit verder as 5 km gedraf het nie – het dit maklik voltooi.

Toe ek haar later oor haar verskuilde Gerda Steyn-vaardighede uitvra, het sy gesê dat dit die ander drawwers is wat haar tot hoër hoogtes aangespoor het.

“Ek hou nie daarvan om alleen moeg te word nie. Wanneer jy saam met ander mense draf sien jy dat jy darem nie die enigste moeë persoon op die pad is nie.”

(Foto: @zimbo_with_a_drone/Oasis Water)

Hoe het dit dan met die uwe gegaan?

Ellendig, dankie.

Ná 14 km het ek die spreekwoordelike muur getref en ek het my boeglam gesukkel om daardeur te breek. Daar is darem ʼn lekker storie om te vertel.

Om en by die 16 km-kerf wou ek verby ’n ander deelnemer draf. Gʼn maklike taak nie, want in dié stadium van die geveg het my bene soos lood gevoel en my slimhorlosie het my al ʼn paar keer gewaarsku dat ek tog net moet “relax”.

In die verbysteekproses – en ek glo dit is danksy my merkwaardige vaartversnelling – kry ek ʼn onverwagse pyn in my bobeen.

“Hie! Eina!” brul ek terwyl ek na die kramp in my regterbeen gryp. Die volgende oomblik wil ’n mede-drawwer by my weet presies waar die “hiëna” is wat ek dan nou kwansuis gewaar het.

Só iets sal waarskynlik net in die Krugerwildtuin gebeur.

Sal ek weer die wedloop wil aanpak?

Enige tyd. Dit is voorwaar ʼn ongelooflike ervaring.

Topuitslae:

Mans:

  1. Abednico Mashaba: 1:10:54
  2. Orgain Malatji: 1:11:52
  3. Lovers Hlatshwayo: 1:12:00
  4. Shaldon Naicker: 1:20:04
  5. Siphiwe Mavundla: 1:21:19

Vroue:

  1. Natalie Sterk: 1:23:37
  2. Megan Dempster: 1:24:40
  3. Adele Broodryk: 1:26:27
  4. Marelise Retief: 1:30:37
  5. Helena Artemides: 1:33:34

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Treurwilger ·

Só lekker gelag vir hierdie drafstorie, puik beskryf!
Wat ‘n unieke ondervinding, waar anders in die wêreld bestaan die moontlikheid om Koning Leeu of een van sy Vier Vriende raak te draf.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.