Wayde bly op koers vir goue dubbel

Wayde van Niekerk – wen SA se tweede goud. Foto: AP Photo/Petr David Josek

In geen sport moet daar sommer goedsmoeds sukses aanvaar word nie, en dit is maar seker normaal dat daar vrese was oor Wayde van Niekerk se 400 m-finaal. Te vinnig wegspring, ʼn spierbesering …

Maar die senuwees wat by ondersteuners gepla het, was onnodig. Suid-Afrika se Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer het die 400-titel wat hy Beijing gewen het, oortuigend in 43.98 s by die Wêreldkampioenskappe in Londen verdedig.

Daarmee het hy Suid-Afrika se tweede goue en vierde medalje by die byeenkoms gewen.

Die man wat verwag is om hom die meeste teenstand te gee, Isaac Makwala van Botswana, het onttrek weens die maagvirus wat 30 atlete getref het wat in dieselfde hotel tuis gegaan het.

Van Niekerk het stewig in die agterste pylvak gehardloop, maar was nog nie heeltemal veilig voor toe hy om die laaste draai kom nie. Sy vaart en krag het hom egter laat wegtrek van die ander en hy het weer die indruk gegee dat hy effens stadiger, dog minder as in die uitdunrondes, oor die laaste paar meter gehardloop het.

Hy kan nie verkwalik word nie. Woensdag tree hy in die 200 m se semi-finaal aan (21:55)

Steven Gardner van die Bahamas was tweede (44,41) in die 400 en Abdelelah Haroun van Katar (44.48) derde in die 400 m.

♦  Justine Palframan het in haar 200-uitdun derde in 23.35 gekom en was een van die drie vinnigste derde-geplaastes wat na die semi-finaal gevorder het.

Wenda Nel was in die 400 m-hekkies derde in haar semi-finaal maar was met 55.70 nie een van die twee wat as vinnigste derde-geplaaste gekwalifiseer het nie.

SA atlete wat Woensdag deelneem –

21:55: mans 200 m, semi-finaal: Wayde van Niekerk en Akani Simbine.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Hierdie man is ongelooflik om dop te hou – lyk of hy sy teenstanders absoluut domineer en die wedloop beheer asof almal aan toutjies vas is en hy die marionetmeester is – laat mens dink aan Edwin Moses en Michael Johnson van ouds. Mens weet dit is slegs ‘n persepsie want om onder 44s te hardloop wil gedoen wees, maar die persepsie is tog daar… Welgedaan Wayde!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.