Net die derde beste tyd in die semi-finale – maar weer, soos in die uitdunne, was Wayde van Niekerk se 44.22 s in die 400 m niksseggend met al drie die wenners wat hul energie gespaar en oor die wenstreep gedraf het.
Van Niekerk het weer in die pylvak, toe hy onder effense druk was, sodanig versnel dat hy op sy gemak gewen en gekwalifiseer het.
Steven Gardner van die Bahamas het in die eeste semi-finaal slegs die tweede atleet in Wêreldkampioenskappe geword wat met ʼn tyd van minder as 44,00 s vir die finaal gekwalifiseer het. Hy moes uithaal om Nathon Allen van Jamaika te klop en het 43,89s aangeteken.
Allen se 44.14 is die tweede beste, gevolg deur Van Niekerk.
♦ Daar is nóg twee Suider-Afrikaanse atlete in Dinsdagaand se 400 m-finaal. Babaloki Thebe van Botswana was tweede na Van Niekerk in die tweede semi-finaal en sy landgenoot, Isaac Makwala, het die derde semi-finaal in 44,30 gewen.
♦ In die 110 m-hekkies het Suid-Afrika se Antonio Alkana derde in sy uitdun geëindig en regstreeks vir die semi-finaal gekwalifiseer. Sy uitduntyd was 13,43 s – heelwat stadiger as sy beste van 13.11.
In sy semi-finaal het hy 13.59 aangeteken. Hy was vierde en is uitgeskakel. Omar McLeod van Jamaika en Garfield Darien (Frankryk) se 13.10 was die vinnigste tye in die drie semi-finale.
♦ Carina Horn (11.26 s) is in die 100 m met haar sesde plek in haar semi-finaal uitgeskakel. Elaine Thomson, die dubbele naelloopkampioen by die Rio Olimpiese Spele, het die vinnigste tyd,10.84, van die kwalifiseerders vir die finaal gehardloop, maar het in die finaal slegs vyfde plek behaal.
Die nuwe wêreldkampioen is Tori Bowie van die VSA (10.85).
♦ In die marathon het dit met die uitsondering van die verdienstelike 21ste plek van Desmond Mokgobu maar vrotterig met die Suid-Afrikaners in die twee marathons vir mans en vroue gegaan.
Mokgobu se tyd was 2:16:14. Die wenner was Geoffrey Kikorir Kirui van Kenia wat in 2:08:27 gewen het.
Die ander twee mans van Suid-Afrika, Sibusiso Nzima en Lusapho April, was onder die 29 atlete wat nie die wedloop voltooi het nie.
Mapasaka Makhanya (2:40:15) was 40ste in die vroue-marathon met haar beste tyd van die seisoen. Die wenner was Rose Chelimo van Burundi (2:27:11).
Maandag se program – SA deelnemers
19:30: mans 200 m-uitdunne: Wayde van Niekerk, Clarence Munyai, Akani Simbine
20:30: vroue 400 m-hekkiesuitdunne: Wenda Nel
22;50: vroue 1500 m-finaal: Caster Semenya
Klik op die volgende skakel vir alle uitslae en programtye: https://www.iaaf.org/competitions/iaaf-world-championships/iaaf-world-championships-london-2017-5151/timetable/byday
Moet die twee menere wat nie eers die marathon voltooi het nie, nie maar dadelik teruggestuur word nie? Sommmer op ‘n derdeklas vlug.Hulle was duidelik net daar vie die trippie. Eintlik moet hulle ook hulle nasionale sweetpakke en frokkies en onderbroeke, die hele lot inhandig want hulle is ‘n skande vir atletiek. Maar nou ja, hulle het hulle seker nie self in die span ingesluit nie.