Wayde van Niekerk, Suid-Afrika se wêreldrekordhouer in die 400 m, het Saterdag die Suid-Afrikaanse 200 m-rekord by ʼn byeenkoms in Jamaika verbeter.
Sy tyd was 19.84 s. Dit verbeter Anaso Jobodwana se rekord van 19.87 s wat in 2015 by die Wêreldkampioenskap in Beijing opgestel is. Van Niekerk se doelwit om die 200 m en die 400 m by vanjaar se Wêreldkampioenskap te wen, lyk goed op koers.
♦ Die byeenkoms, die Racers Grand Prix, was ook Usain Bolt se laaste byeenkoms voor ʼn tuisskare. Hy het in 10.03 s gewen. Die tweede plek is deur Minzie JeVaughn in 10.15 ingeneem.
In ʼn ander 100 m-naelloop op die byeenkoms was Akani Simbine tweede in 10.00 s. Die wenner was Yohan Blake in 9.97 s.