Wayde en Wenda wil in Tokio woeker

Wayde van Niekerk gedurende die uitdunne van die 400 m in Tokio. (Foto: Javier SORIANO / AFP)

Suid-Afrika se Wayde van Niekerk en Wenda Nel is vandag in die halfeindrondes van hul onderskeie baanitems by die Olimpiese Spele in aksie.

Van Niekerk het sy eerste 400 m-uitdunlopie in ’n tyd van 45.26 sekondes voltooi en hy het die 12de vinnigste kwalifiserende tyd vir vandag se aksie opgestel.

Die wêreldrekordhouer het ná die wedloop gesê hy moes die senuwees eers afskud en hy het ʼn goeie 200 m gehad, maar toe te vroeg afgeskakel.

“Maar hoe meer ek hardloop, hoe meer beheer begin ek kry. Ek is in die halfeind en nou moet ek seker maak ek haal in op verlore tyd. Ek voel gemaklik. Ek voel goed,” het Van Niekerk gesê.

Dan sal Nel ongetwyfeld op haar tyd van 56.06 sekondes in die 400 m-hekkiesitem moet verbeter indien sy nog ’n hoofstuk of twee by haar Olimpiese Spele-storie wil voeg.

Suid-Afrika se Wenda Nel. Foto: Anton Geyser/SASPA.

Sydney McLaughlin-hulle het almal vinniger as 55 sekondes gehardloop; tog het Nel vroeër gesê dat hul spogtye nie haar gedagtes sal oorheers nie.

“Die grootste fout wat ek kan maak, is om heeltyd te dink hoe vinnig hulle is. Ek het immers my eie doelwitte wat ek wil najaag.”

Volgens Nel word elke oefensessie aangepak met die oog op een spesifieke prys: Om die perfekte wedloop te hardloop.

“Ek sal mal wees daaroor as dit by die Olimpiese Spele kan gebeur, maar met sport is daar geen sekerhede nie. Al wat ek kan waarborg, is dat ek met elke wedloop my heel beste sal lewer.”

Van Niekerk hardloop vandag om 13:21 en Nel om 13:45. Die aksie sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.