Wayde is terug in aksie

Wayde Van Niekerk. Foto: AP Photo/Petr David Josek

Wayde van Niekerk het in 2016 die atletiekwêreld aan sy voete gehad. Hy het die 400 m-wêreldrekord by die Olimpiese Spele verbeter en die Suid-Afrikaanse vlag is met trots in Rio de Janeiro geswaai.

’n Ernstige kniebesering het egter sy voorbereiding vir die komende skouspel in Tokio gekniehalter, maar daar is goeie nuus: Hy is weer terug op die baan.

Van Niekerk het Maandagaand in die Vrystaat die 100 m by ’n Kovsie-byeenkoms in ’n nie-amptelike tyd van 10,20 sekondes gewen. Boonop het hy dié indrukwekkende prestasie op ’n grasbaan behaal wat wys dat sy Olimpiese voorbereidingswerk op koers is.

Caster Semenya. Foto: (AP Photo/Kamran Jebreili)

Dan het Caster Semenya en Akani Simbine die afgelope naweek hul beste tye by die Backtrack Newton Classic Shootout-byeenkoms by die Universiteit van Johannesburg gehardloop.

Semenya, wat op ’n hofuitspraak wag om te hoor of sy haar Olimpiese 800 m-titel in Tokio kan verdedig, het die 300 m-wedloop met haar tyd van 36,78 sekondes gewen. In die proses het sy Heide Seyerling se vorige rekord met 0,24 sekondes verbeter.

Seyerling se rekord is in Sydney opgestel en dit het amper 20 jaar lank gestaan.

Op sy beurt het die blitsige Simbine die nasionale 150 m-rekord van Anaso Jobodwana geëwenaar toe hy dié item met sy tyd van 15,08 sekondes gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.