Wayde kry nou tóg sy kans om twee goues te wen

Wayde van Niekerk – hy kry kans om twee goue medaljes by die Wêreldkampioenskap te wen

Die goue seun van Suid-Afrikaanse atletiek, Wayde van Niekerk, gaan wel sy kans kry om later vanjaar by die Wêreldkampioenskap in Londen ʼn goue medalje in die 200 m én die 400 m te wen.

Dit volg nadat die Internasionale Vereniging van Atletiekfederasies (IAAF) Woensdag ingestem het om die 200 m na 7 Augustus te verskuif

Die versoek van Van Niekerk is deur Atletiek SA aan die IAAF gerig.

Van Niekerk, wat die goue medalje by verlede jaar se Olimpiese Spele in Rio de Janeiro in die 400 meter in ’n wêreldrekordtyd van 43,03 s gewen het, sal probeer om Michael Johnson dit na te doen om albei die nommers te wen.

Johnson het dié sonderlinge prestasie in 1995 by die Wêreldkampioenskap in Gottenburg behaal.

Van Niekerk is die enigste atleet wat al die 400 m in onder 44s, die 200 m in onder 20 s en die 100 m onder 10 se afgelê het.

♦  Die moontlikheid om nou aan albei nommers deel te neem, is die gevolg van ’n verandering aan die program vir Londen. Die uitdun van die 200 m is van die vyfde na die vierde dag geskuif.

Met die aanvanklike program waar die eindronde van die 400 m ’n paar uur na die 200 m uitdunne sou plaasvind, sou dit omtrent onmoontlik wees om aan albei nommers deel te neem.

Dit beteken dat Van Niekerk in die 200 meter teen Usain Bolt te staan sal kom. Bolt het verlede jaar in die 100 meter én die 200 meter die Olimpiese titels verower en hy was ook die eerste atleet wat in albei dié nommers die wêreldrekord agter sy naam kon skryf.

Die Wêreldkampioenskap vind van 4-13 Augustus in Londen se Olimpiese stadion plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter ·

Marnus, ek weet Wayde is vinnig, maar ek het nie geweet hy is soooooo vinnig nie! 400 meter in 4,03 sekondes?! Ek wens ek kon dit sien!

Wim van der Berg ·

Verskoning en dankie vir die uitwys! Tikfoute kom maar voor, maar dit moet opgetel word! Dis nou reggemaak.

Wouter ·

Ja Pieter ek sal baie betaal om dit te sien. Glo dis n Wêreldrekord en gaan vir baie jare staan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.