Wayde op sy gemak deur na semi-finaal

Wayde van Niekerk – regstreeks na die semi-finaal. Foto: AP Photo/Petr David Josek

Wayde van Niekerk, Suid-Afrika se Olimpiese kampioen en houer van die wêreldrekord in die 400 m, het Saterdagoggend in sy uitdun oor die laaste 100 m uitgehaal en uiteindelik verspot maklik in 45.27 s gewen.

Daarmee is hy regstreeks deur na die semi-finaal Sondagmiddag.

Van Niekerk het oor die eerste 300 m net gesorg dat hy nie agterraak nie, maar toe in die pylvak oopgemaak.

Sy tyd was die derde stadigste van die ses uitdunne se wenners wat maar almal in mindere of meerdere mate hier teen die einde laat slaplê het. Daar is 15 atlete wat gekwalifiseer het met beter tye as Van Niekerk.

Hoewel die tye feitlik niksseggend is vir atlete wat hulle uitdunne gewen het, was Van Niekerk se vertoning toe hy oor die laaste 100 m ooplê moontlik die indrukwekkendste.

♦ In die gewigstoot het Suid-Afrika se Orazio Cremona (19.890 m) en Jaco Engelbrecht (19.51 m)  onderskeidelik 23ste en 27ste van die 32 deelnemers in die kwalifiserende ronde geëindig.

Thomas Walsh (22.14 m) van Nieu-Seeland was die voorste van die 12 kwalifiseerders vir die eindronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.