Wayde wil weer spiere bult

Wayde van Niekerk in aksie in Boedapest. (Foto: Jewel Samad/AFP)

Sewe jaar nadat hy die 400 m-wêreldrekord na ʼn blitsige 43.03 sekondes verbeter het, wil Wayde van Niekerk wys dat hy steeds ʼn atletiekkrag is om mee rekening te hou.

Die 31-jarige Suid-Afrikaner hardloop vanaand om 21:00 in die halfeindronde van die 400 m by die Wêreldkampioenskap in Boedapest. Hy het vroeër sy uitdunlopie in ʼn tyd van 44.57 sekondes gewen.

Van Niekerk is besig om lekker stoom op die internasionale atletiekverhoog op te bou.

Hy het in Julie tydens ʼn Diamantliga-byeenkoms in Pole die item in ʼn goeie tyd van 44.08 sekondes afgeblits. Dit was nie net ʼn splinternuwe byeenkomsrekord nie, maar ook sy beste tyd in jare.

“Dinge vorder in die regte rigting en ek is tevrede met my bestendigheid – veral op die oefenbaan. Dit was my vinnigste lopie van die afgelope sewe jaar en dié tyd wys dat 43 sekondes moontlik is,” het Van Niekerk ná sy Poolse sukses gesê.

Hy het ʼn paar maande gelede by die nasionale atletiekkampioenskap in Potchefstroom reeds begin spiere bult met sy wentyd van 44.17 sekondes.

“My lyf voel sterk en ek hanteer dinge goed. Hopelik kom alles mooi byeen later vanjaar by die Wêreldkampioenskap,” het hy destyds gesê.

Zakithi Nene sal ook vir die 400 m-halfeindronde aantree.

Marioné Fourie en Taylon Bieldt, Suid-Afrika se twee talentvolle hekkiesatlete, sal om 18:40 in die 100 m-hekkiesuitdunrondes te siene wees.

Fourie is die nasionale rekordhouer in dié item en sy het vroeër vanjaar die een plaaslike wedloop ná die ander gewen.

Dan sal Zenéy van der Walt haar staal om 20:25 in die halfeindronde van die 400 m-hekkiesitem wil wys.

Wenda Nel, die voormalige Suid-Afrikaanse Olimpiese atleet, is opgewonde oor wat die toekoms vir die jong atleet kan inhou. Sy het Van der Walt onder meer as iemand met baie potensiaal beskryf; iemand wat nie sommer vir ʼn uitdaging skrik nie.

Sy sal egter haar sokkies teen ʼn sterk groep internasionale atlete in Boedapest moet optrek nadat sy Maandag agtste in haar plat 400 m-lopie geëindig het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.