Wind kelder blitsige Akani se rekordlopie

Akani Simbine. Foto: Reg Caldecott.

Gooi die water, gooi die sand; Akani Simbine is tans aan die brand.

Ja, dit klink soos iets wat die Blesbokspan by ’n laerskool-interhuisbyeenkoms sal sing, maar Simbine is inderdaad besig om amok in die atletiekwêreld te maak.

Die naelloper het gister by die nasionale kampioenskap op die Universiteit van Pretoria se baan die 100 m in ’n spogtyd van 9,82 sekondes afgeblits, maar ’n wind-hupstoot het beteken dat dit nie as ’n amptelike Suid-Afrikaanse rekord aangeteken kan word nie.

Maar waar die wind dalk ’n inskrywing in die rekordboeke gekeer het, het dit beslis wondere vir sy selfvertroue beteken.

“Ek het na die nasionale kampioenskap gekom met een doelwit voor oë en dit is om vinnig te hardloop. Die volgende uitdaging is nou om aan te hou werk om selfs vinniger te word. Ek wil die Suid-Afrikaanse seisoen met ’n nuwe persoonlike beste tyd afsluit,” het Simbine gesê.

Die Tukkies-atleet het in 2016 die nasionale 100 m-rekord na 9,89 sekondes in Hongarye verbeter, terwyl hy ook die eerste Suid-Afrikaanse naelloper is wat twee keer op dieselfde dag die 100 m in ’n tyd vinniger as 10 sekondes kafgedraf het.

Gift Leotlela het gister sy lopie in die semifinaal in 9,94 sekondes gewen, maar die wind was weer eens ’n faktor.

Daar wag egter ’n watertand-finaal later vandag!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.