Zeney wen silwer in hekkies

Zeney van der Walt. Foto: Reg Caldecott.

Die Olimpiese kwalifiserende tyd van 54,70 s is nog nie heeltemal in die sakkie nie, maar Zeney van der Walt is besig om daadwerklike Tokio-spronge te maak.

Die Tukkie-naelloper het gisteraand ’n podiumplek in Italië losgehardloop, toe sy die silwer medalje in die 400 m hekkies by die Wêreld-Studentespele verower het.

Sy het die item in ’n tyd van 55,73 s voltooi, amper een sekonde stadiger as Italië se Ayomide Folorunso se wentyd van 54,74 s. Noorweë se Amalie Iuel het die bronsmedalje gewen.

Met haar medalje het die 19-jarige Van der Walt haar unieke rekord voortgesit: Sy het ’n podiumplek by elke groot kampioenskap waar sy oor die afgelope drie jaar in aksie was, losgeslaan.

Haar afrigter, Mariza Coetzee, het voor die Italiaanse avontuur gesê dat 2019 ’n waterskeidingsjaar vir Van der Walt is omdat sy nou teen meer ervare atlete sal deelneem.

Van der Walt – wat verlede jaar nog op skool was – sal ook by die senior-atletiekkalender moet aanpas. Sy het in 2018 aan 36 wedlope deelgeneem, vanjaar was sy nog net by 11 in aksie.

“Daar is niks wat Zeney meer geniet as ’n goeie tweestryd gedurende ’n resies nie. Een van haar beste eienskappe as atleet is dat sy tot die laaste meter sal baklei vir ’n goeie plek,” het Coetzee gesê.

  • Van der Walt het vroeër vanjaar ’n tyd van 52,89 s in die 400 m losgeblits. Net drie ander plaaslike junior atlete het ’n soortgelyke prestasie behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.