Aussie Ope: kan Anderson in Kriek se voetspore trap?

Kevin Anderson. (Foto: AP Photo/Vincent Thian)

Jare gelede, toe Naas Botha nog rugby gespeel het, Gerrie Coetzee geboks en Graeme Pollock krieket gespeel het, het Johan Kriek van die grootste prestasies nóg deur ʼn Suid-Afrikaanse tennisspeler behaal.

Kriek, wat op Afrikaans Hoër Seunskool (Affies) op skool was, het in 1981, en weer in 1982 toe hy as Amerikaner gespeel het, die Australiese Ope gewen.

Dit is een van tennis se vier grotes – en Kriek het dit onder meer teen legendes soos Jimmy Connors, Andre Agassi, Björn Borg, John McEnroe, Vitas Gerulaitis en Guillermo Vilas reggekry.

Ek weet nie of Kriek ooit in Suid-Afrika die nodige erkenning gekry het nie, ongeag sy twee Grand Slam-oorwinnings, 12 ander toernooi-oorwinnings en ses dubbelspeltitels.

Is daar nie baie ooreenkomste met Kevin Anderson nie, wat van Maandag af in Melbourne die vaandeldraer van Suid-Afrikaanse tennis in vanjaar se Ope sal wees? Anderson, wat ook al jare lank in die VSA woon, met ʼn Amerikaner getroud is en nog nie werklik in sy eie land geëer is nie?

Anderson, wat 11de gekeur is, is een van die buiteperde en kom in die eerste ronde teen die Brit Kyle Edmund te staan, wat toevallig ook in Suid-Afrika gebore is.

Maar Anderson se pad is vol dorings, want al het Andy Murray en Kei Nishikori weens beserings onttrek, sal Anderson se pad iewers met dié van Roger Federer, Rafael Nadal, Novak Djokovic, Grigor Dimitrov en Juan Martin del Potro, asook ʼn hele rits jong Turke, kruis.

♦ In die vroue-afdeling is daar ʼn magdom spelers wat kan wen, soos Simona Halep, Elina Svitolina, Karolina Pliskova, Angelique Kerber en Garbine Muguruza. En wat van die omstrede Maria Sharapova of Venus Williams?

♦ Die toernooi word van Maandag af daagliks (02:00 tot 16:00) op SuperSport6 uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.