Aussies lugtig vir Proteas in vierhoekige reeks

Bongi Msomi. Foto: Reg Caldecott/Gallo Images/ANA

Bongi Msomi. Foto: Reg Caldecott/Gallo Images/ANA

Die nasionale netbalspan, die Proteas, kom Saterdag in die openingswedstryd van die Quad-toernooi in Auckland teen Australië, die wêreld se topspan, te staan.

Die Proteas het reeds die week ná hul aankoms ʼn oefenwedstryd teen Nieu-Seeland A gespeel en met tien doele verloor. Hulle afrigter, Dorette Badenhorst, sê die telling was egter nie belangrik nie. Dit was bloot ʼn losmaker ná die lang vlug en ʼn geleentheid om kombinasies op die proef te stel.

Die Quad-toernooi vind in Auckland en Melbourne plaas. Die ander twee deelnemers is Nieu-Seeland (Silver Ferns) en Engeland (Roses).

Die Australiese span was in Januarie laas bymekaar en kan dalk ná ʼn kort oefenkamp dié week nog nie heeltemal op dreef wees nie. Die Australiese hoofafrigter, Lisa Alexander, is maar lugtig vir die Proteas, veral ná die Aussies lank afgelê het.

In die afwesigheid van die beseerde Maryka Holtzhausen sal die onderkaptein, Bongi Msomi (28), die Proteas lei. Sy is ʼn ervare speler met 66 internasionale wedstryde agter die blad. Sy het in 2011 haar debuut vir die nasionale span gemaak en is sedert 2013 onderkaptein.

Die konsultant-afrigter, Norma Plummer, wat Australië tot twee titels in die wêreldkampioenskap afgerig het en Suid-Afrika nou bystaan, en die assistent-afrigter, Nicole Cusack, het hulle by die Proteas aangesluit.

Hulle gaan Badenhorst help om die span slaggereed te kry vir die baie strawwe toernooi tussen die wêreld se beste drie spanne en Suid-Afrika, wat vyfde op die wêreldranglys is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.