Die skoen was Saterdag in die Australiese MotoGP op die Phillip-eiland aan die ander voet vir Suid-Afrika se Brad Binder (Red Bull KTM) toe hy vierde geëindig het.
Die MotoGP is na Saterdag verskuif omdat kwaai wind vir Sondag voorspel word. Die blitsren, asook die Moto2- en Moto3-renne, sal dan plaasvind.
Binder, wat lank tweede was, is met nege rondes oor deur die jongeling Fabio Di Giannantonio (Gresini Ducati) verbygesteek.
Binder het met vyf rondes oor weer tot die tweede plek opgeskuif toe hy Di Giannantonio verbygesteek het.
ʼn Podiumplek het beslis gewink.
Binder was in die voorlaaste ronde in ʼn dolle stryd gewikkel met Jorge Martin (Pramac Ducati), wat die voorloper in feitlik die hele ren was, asook Johan Zarco (Pramac Ducati), die huidige wêreldkampioen Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo) en Di Giannantonio.
Zarco het na vore geskiet en Binder en Martin verbygesteek om sy eerste oorwinning in MotoGP te behaal.
Binder is deur Bagnaia en Di Giannantonio tot vierde uitgeskuif.
Zarco was eerste, gevolg deur Bagnaia (+0.201 sekondes), Di Giannantonio (+0.477) derde, Binder (+0.981) vierde, Martin vyfde en Marco Bezzecchi (Mooney VR46) sesde.
Bagnaia het met sy tweede plek sy voorsprong bo Martin op die puntelys gerek.
Bagnaia (366 punte) is nou 7 punte voor Martin (339), gevolg deur Martin (293), Binder (224), Zarco (187) en Aleix Espargaro (185).