Australiese Ope: beseringspook trek Nadal plat

Jammer, ou maat, sê Marin Čilić aan die teleurgestelde Rafael Nadal wat weens ʼn besering moes onttrek. (Foto: Twitter @AustralianOpen)

Eers Novak Djokovic en nou ook Rafael Nadal.

Nadat Djokovic Maandag ʼn elmboogbesering in die kwarteindronde van die Australiese Ope in Melbourne opgedoen het en deur Hyeon Chung van Suid-Korea uitgeskakel is, het die noodlot Dinsdag verder toegeslaan toe die eerste gekeurde Nadal van Spanje moes tou opgooi teen die Kroaat Marin Cilic.

Cilic, wat sesde gekeur is, was met 3-6, 6-3, 6-7 (7-5), 6-2, 2-0 voor toe Nadal nie kon voortspeel nie nadat hy sy been beseer en behandeling daarvoor ontvang het.

Hy het moedig probeer voortspeel, maar het besef dat hy die besering sou vererger deur aan te hou.

Hy kon kwalik van die baan afstap en sy gesig was vertrek van die pyn, geestelik en liggaamlik.

“Dis baie jammer dat dit so vir hom (Nadal) moes eindig, want hy lewer altyd sy beste. Ek het op my eie spel gekonsentreer en nie anderkant die net gekyk nie,” het Cilic aan die BBC gesê.

Cilic kom nou teen Kevin Anderson se temmer, die Brit Kyle Edmund te staan, wat die derde gekeurde Bulgaar Grigor Dimitrov met 6-4, 3-6, 6-3, 6-4 uitgeskakel het.

Dit was slegs die tweede keer in 264 Grand Slam-wedstryde dat Nadal moes tou opgooi. Die vorige keer was in die kwarteindronde van die Australiese Ope in 2010 toe hy  in die kwarteindronde teen die Skot Andy Murray gespeel het.

Ongeag sy onttrekking sal Nadal steeds sy voorste posisie op die wêreldranglys behou. Maar as die tweede gekeurde Roger Federer, wat Woensdag in die kwarteindronde teen die onbesonge Amerikaner Tennys Sandgren speel,  die toernooi wen, sal hy net 155 punte agter Nadal op die ranglys wees.

♦  In die vroue-afdeling het Elise Mertens van België die vierde gekeurde Elina Svitolina van die Oekraïne met 6-4, 6-0 geskok. Dit was die eerste keer dat Mertens ʼn top5-speler geklop het en sy is die eerste Belg sedert Kim Clijsters in 2013 wat in die halfeindronde speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vraagteken ·

Bestaan die moontlikheid dat hy ontrek het omdat hy voorspel het (tydens die 5de rondte) dat hy nie sou wen nie? Het hy dit nie al voorheen gedoen (praat onder korreksie) nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.