Australiese Ope: betaal ons meer, vra Djokovic

Novak Djokovic – spelers word te min betaal. (Foto: AP Photo/Michel Euler/ wire.africannewsagency.com)

Die Serwiese tennisspeler Novak Djokovic het sy  medespelers versoek om ʼn spelersunie te stig en op groter prysgeld in ATP-toernooie en die vier Grand Slams aan te dring.

Djokovic, wat Dinsdag sy openingswedstryd in die eerste ronde van die Australiese Ope-tennistoernooi in Melbourne gewen het, het vanweë beserings verlede jaar in Junie op Wimbledon laas in ’n Grand Slam-toernooi gespeel.

Hy het Donald Young Dinsdag met 6-1, 6-2, 6-4 geklop en hom aangesluit by Roger Federer, wat ʼn ewe maklike oorwinning van 6-3, 6-4, 6-3 oor Aljaz Bedene behaal het.

Die tweede dag se ander hoogtepunte was dié van Maria Sharapova, wat haar wedstryd teen Tatjana Maria met 6-1, 6-4 gewen het; Stan Wawirinka, wat van sy beserings herstel het en Ricardas Berankis met 6-3, 6-4, 2-6, 7-6 (7-5) uitgeskakel het en Simona Halep, die wêreld se voorste vroue-speler, wat Destanee Ajava met 7-6 (7-5), 6-1 geklop het.

Dan is  Alexander Zverev (4de gekeur), Dominic Thiem (5), David Goffin (7) en Juan Martin del Potro (12) ook deur.

In die vroueafdeling het Garbine Muguruza (2de), Karolina Pliskova (6), Johanna Konta (9) en Angelique Kerber (21) ook maklik gewen.

Djokovic, wie se loopbaanverdienste £80 miljoen (sowat R1,34 miljard) beloop, het die verpligte spelersvergadering voor die toernooi saam met Federer, Andy Murray en Rafael Nadal bygewoon.

Voordat hy sy medespelers toegespreek het, het hy die ATP-beamptes gevra om die vertrek te verlaat.

Saam het Djokovic, Federer en Nadal reeds £217 miljoen (bykans R3,65 miljard) verdien,  maar hul kommer is volgens die BBC die spelers wat buite die top100 val en glo sukkel om ʼn behoorlike bestaan te voer.

Djokovic, wat nie ten gunste van gelyke prysgeld vir mans- en vroue-spelers is nie “omdat mans groter skares lok”, het vir verhoogde prysgeld gevra om die speelveld met ander sportsoorte gelyk te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rupert Ashford ·

Ek stem saam met hom oor die gelyke prysgeld storie. As die vrouens gelyke prysgeld wil he moet hulle beste uit 5 stelle speel en dit sal ‘n saai affere wees.

Therese van Schalkwyk ·

As die kommer oor spelers buite die top 100 opreg is, staan dit die oorbetaalde topspelers natuurlik vry om te versoek dat die reuse bedrae meer eweredig versprei word.
Toeskouers betaal reeds deur hul nekke vir kaartjies en is die mense wat weer eens gemelk gaan word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.