Australiese Ope: blink Federer bo ná blase Chung kelder

Hoe klop jy ʼn teenstander wat net 17 stelle nodig gehad het, en nie een in sy opmars om tot die eindstryd van die Australiese Ope-tennistoernooi  in Melbourne deur te dring afgestaan het nie?

Dit is die reusetaak wat Sondag op die Kroaat Marin Čilić wag wanneer hy teen die Switserse legende Roger Federer te staan kom.

Federer het Vrydag sy halfeindstryd teen die jong Suid-Koreaan Hyeon Chung binne 62 minute by verstek gewen nadat Chung, wat met 1-6, 2-5 agter was, weens blase onder sy linkervoet nie kon voortgaan nie.

Is dit nie ironies nie dat die 36-jarige Federer, wat op soek is na sy sesde Australiese Ope-titel en 20ste Grand Slam-oorwinning, beseringsvry bly, maar dat Novak Djokovic, Rafael Nadal, Chung en ʼn rits ander spelers tou moes opgooi?

“Ek het gedink dinge was in die eerste stel normaal, maar in die tweede het ek agtergekom dat hy stadiger raak. Dit (die blase) is seer. Ek is baie bly om in die eindstryd te speel, maar nie vir sy onthalwe nie. Hy het so ʼn goeie toernooi beleef,” het Federer beleefd aan die BBC gesê.

Nou is die vraag: watter kans staan Čilić, wat met net een Grand Slam-titel spog (die Amerikaanse Ope in 2014), teen Federer, wat reeds in 2003 sy eerste Grand Slam-toernooi gewen het en met vyf titels in Australië, agt op Wimbledon, vyf in die Amerikaanse Ope op Flushing Meadow en ʼn enkele oorwinning op Roland Garros in Parys spog?

Baie min … maar dan het snaakser dinge ook al in eindstryde gebeur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rupert Ashford ·

Interessant hoeveel spelers met SA bande goed gedoen het. Roger se ma, Sandgren se ma, Kyle Edmund was vir Kevin Andrews uitgeskakel en tot in semis gevorder het is in SA gebore. If only…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.