Australiese Ope: ʼn dag van skokke

Novak Djokovic sal nie vanjaar by die Australiese Ope so kan feesvier nie. (Foto: (Xinhua/Qin Lang)(hcs)/wire.africannewsagency.com)

Daar is ʼn ou en ware sêding in sport dat jy nie met ʼn besering kan speel of dit wegsteek nie.

Dit het die Serwiër Novak Djokovic Maandag in Melbourne opnuut besef toe hy in die vierde ronde van die Australiese Ope-tennistoernooi met 7-6 (7-4), 7-5, 7-6 (7-3) deur die onbesonge Hyeng Chung van Suid-Korea geskok is.

Djokovic, wat die toernooi in 2008, 2011, 2012, 2013, 2015 en 2016 gewen het, het behandeling vir ʼn seer elmboog ontvang en het deur die pyngrens probeer voortspeel.

“Ongelukkig is dit nie baie lekker nie. Dit het aan die einde van die eerste stel seer begin raak en ek moes daarmee probeer vrede maak. Ek het gehoop om deur die hele toernooi daarmee deur te druk,” het Djokovic na die tyd aan die BBC gesê.

Maar het hy ook baie lof vir sy teenstander gehad, die eerste speler van Suid-Korea wat tot die kwarteindronde kon deurdring.

“Ek wil nie vanaand oor my besering praat nie, want ek wil niks van Chung se oorwinning wegneem nie. Hy verdien al die krediet wat hom toekom,” het Djokovic gesê.

Chung het gesê dat hy as jongeling soos Djokovic probeer speel het, want dié was sy rolmodel.

Die groot vraag is nou of Djokovic, wat ʼn elmboogoperasie ná verlede jaar se Wimbledonse toernooi ondergaan het, dié besering sal kan afskud.

♦  In nog ʼn skok het die Amerikaner Tennys Sandgren, wat 97ste op die wêreldranglys is, in sy buigingtoernooi die vyfde gekeurde Dominic Thiem van Oostenryk met  6-2, 4-6,  7-6 (7-4), 6-7 (7-9), 6-3 uitgeskakel.

Sandgren is na sy Sweedse oupagrootjie vernoem. Sy Afrikaanse ma Lia Lourens, het op ʼn plaas tussen Bethal en Middelburg groot geword voordat sy met die Amerikaner David Sandgren getroud is en hulle na Amerika geëmigreer het.

Sandgren, wat voorheen nog nooit ʼn wedstryd in ʼn Grand Slam-toernooi kon wen nie,  kom in die kwarteindronde teen Chung te staan.

♦  In teenstelling met Djokovic het die verdedigende kampioen, Roger Federer van Switserland, voort gestoomroller toe hy Marton Fucsovics van Hongarye met 6-4, 7-6 (7-3), 6-2 uitgestof het.

Die tweede gekeurde Federer (36) sal nou teen die Tsjeg Tomas Berdych te staan kom, wat die Italianer Fabio Fognini met 6-1, 6-4, 6-4 uitgeskakel het.

Federer het Berdych verlede jaar in die derde ronde uitgeskakel.

“Ek is seker hy sal my daarvoor wil terugbetaal,” het Federer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.