Australiese Ope: dis die meester teen die jong Turk

Hyeon Chung – die 21-jarige Suid-Koreaan se grootste uitdaging kom in die halfeind teen Roger Federer. (Foto: Facebook Australian Open)

Die Switserse tennislegende Roger Federer se pad is uitgestippel om die Australiese Ope-toernooi te wen nadat hy die Tsjeg Tomáš Berdych Woensdag in die kwarteindronde met 7-6 (7-1), 6-3, 6-4 uitgeskakel het.

Federer, 36, kom Vrydag teen die ongekeurde Hyeon Chung van Suid-Korea in een van die halfeindrondes te staan.

Die Brit Kyle Edmond pak die Kroaat  Marin Čilić in Donderdag se ander halfeindstryd.

Dit is die 14de keer dat Federer die halfeindronde haal en die senuwees sal erg knaag aan die 21-jarige Chung, wat die eerste keer in die halfeindronde van ʼn Grand Slam-toernooi speel.

Chung het vroeër gesê dat hy nie omgee teen wie hy in die halfeind speel nie, maar dit was voordat hy uitgevind het dat dit Federer is.

Berdych het Federer in die eerste stel ʼn bietjie opdraande gegee, maar van toe af was dit net afdraande.

“Ek het ʼn bietjie rondgehang, ʼn bietjie kwaad geword, miskien teenoor die skeidsregter,” het Federer glimlaggend aan die BBC gesê.

Chung het die ongekeurde Amerikaner Tennys Sandgren met 6-4, 7-6 (7-5), 6-3 geklop. Chung is maar net 58ste op die wêreldranglys en die laagste speler op die ATP-ranglys in 14 jaar wat tot die halfeindronde spel.

Chung beleef ʼn droomtoernooi en het verdien om tot die halfeindronde te vorder nadat hy onder meer met die talentvolle Duitser Alexander Zverev en Novak Djokovic afgereken het.

Sandgren, die 26-jarige Amerikaner met Afrikaanse bande (sy ma Lia Lourens kom van ’n plaas genaamd Broodsnyersplaas af wat tussen Bethal en Middelburg geleë is) het voor die toernooi nog nie ʼn enkele wedstryd in ʼn Grand Slam-toernooi gewen nie.

♦  In die vroue-afdeling  pak die wêreld se voorste speler, Simona Halep van Roemenië vir Angelique Kerber van Duitsland in een van die halfeindrondes.

Halep het Woensdag die Tsjeg Karolina Pliskova met 6-3, 6-2 geklop en Kerber het die Amerikaner Madison Keys met 6,1 6-2 uitgestof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.