Australiese Ope: Edmund skok Anderson

Kevin Anderson – uitgeskakel (Twitter @Kevin Anderson)

Suid-Afrikaanse tennisondersteuners het Maandagoggend met ʼn skok wakker geword met die nuus dat die 11de gekeurde Kevin Anderson in die eerste ronde van die Australiese Ope in Melbourne uitgeskakel is.

Hy het met 6-7 (7-4), 6-3, 3-6, 6-3, 6-4 teen die Brit Kyle Edmund verloor.

Edmund, wat 49ste op die wêreldranglys is, is Brittanje se tweede beste mansspeler naas die beseerde Andy Murray en is, net soos Anderson, ook in Johannesburg gebore. Sy ouers het na Brittanje verhuis toe hy net drie jaar oud was.

Anderson, wat in die eindstryd van verlede jaar se Amerikaanse Ope deur Rafael Nadal geklop is en in verlede week se eindstryd van die toernooi in Pune, Indië, gespeel het, se kanon-afslane het weer die kol getref.

Hy het 35 kishoue teenoor Edmund se 11 geslaan en net twee dubbelfoute teenoor Edmond se vyf begaan. Maar Edmund was meer bestendig in die marathonstryd wat vier ure geduur het.

Edmund kom in die tweede ronde teen Denis Istomin van Oezbekistan te staan wat die Fransman Pierre-Hugues Herbert uitgeskakel het.

Anderson se nederlaag was die eerste van ʼn paar skokke op die eerste oggend nadat die veteraan Venus Williams met 6-3, 7-5 deur Belinda Becic van Switserland uitgeskakel is. Dit is die eerste keer sedert 1997 (21 jaar gelede) dat een van die Williams-susters nie die tweede ronde kon haal nie. Bygesê, jonger suster Serena speel nie, vanweë die geboorte van haar eersteling verlede jaar.

Die Amerikaner, Coco Vandeweghe is met 7-6 (7-4), 6-2 deur Timea Babos (Hongarye) uitgeskakel en Sloane  Stephens (VSA), die Amerikaanse Ope-kampioen, is met 2-6, 7-6 (7-2),  6-2 deur Zhang Shuai van China verras.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.