Australiese Ope: Federer, die jintelman

Roger Federer. (Foto: AP Photo/Andy Brownbill)

Die Switserse tennismeester, Roger Federer, het voor in die ry gestaan toe goeie maniere uitgedeel is.

Dit het hy Saterdag in Melbourne die soveelste keer bewys toe hy tot die vierde ronde van die Australiese Ope-tennistoernooi deurgedring het deur die Fransman Richard Gasquet met 6-2, 7-5, 6-4 te klop.

Soos gewoonlik het hy baie lof vir sy teenstander gehad en ook  ʼn paar goeie dinge oor sy volgende teenstander, die Hongaar Marton Fucsovics, wat 89ste in die wêreld is, kwytgeraak.

“Ek ken hom so ʼn bietjie. Hy was in Switserland om ʼn week lank saam met my te oefen. Hy was uitstekend, is ʼn gawe ou en is hardwerkend,” het Federer ná sy sege aan die BBC gesê.

Oor sy eie spel het Federer gesê hy het nog in sy hele loopbaan met sy dubbelhandrughoue gesukkel.

Glad nie sleg nie vir ʼn legende wat reeds 19 Grand Slam-toernooie gewen het, die 16de keer die vierde ronde in die Australiese Ope gehaal het, met 95 toernooi-oorwinnings spog, insluitende ʼn goue medalje op die Olimpiese Spele en vir 237 opeenvolgende weke die wêreld se beste mansspeler was.

♦  Novak Djokovic van Serwië is ook deur, maar hy het sy ondersteuners groot laat skrik toe hy behandeling vir ʼn seer linkerbeen ontvang het. Djokovic het glad nie op sy gemak gelyk in sy sege van 6-2, 6-2, 6-3 oor Albert Ramus-Vinolas van Spanje nie.

Die enigste skok in die mansafdeling is deur die Suid-Koreaan Hyeon Chung gelewer wat die vierde gekeurde Duitser Alexander Zverev met 5-7, 7-6 (7-3), 2-6, 6-3, 6-0 uitgeskakel het. Daar was ook goeie seges vir die Tsjeg Tomas Berdych en Dominic Thiem van Oostenryk.

♦  In die vroue-afdeling het die wêreld se voorste speler, Simona Halep van Roemenië, in ʼn marathonstryd wat drie uur en 45 minute geduur het, Lauren Davis van Amerika met 4-6, 6-4, 15-13 geklop.

Die laaste stel het ʼn allemintige 142 minute geduur.

“Ek was nog nooit betrokke in ʼn derde stel wat só lank geduur het nie. My spiere is weg en ek weet nie hoe dit met my enkel gaan nie, want ek kan dit nie meer voel nie,” het Halep volgens die BBC gesê.

Angelique Kerber van Duitsland is ook deur nadat sy Maria Sharapova van Rusland se doppie geklink het.

Madison Keys (VSA), die twee Tsjegge, Karolina Pliskova en Barbora Strycova, en Caroline Garcia (Frankryk) is ook na die volgende ronde deur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.