Australiese Ope: hou jou in toom, Kyrgios

Alle tennisspelers floreer wanneer die adrenalien vloei, en as hulle boonop in staat is om kop te hou, hul humeur kan beteuel en beskeie kan bly, is die stryd meer as halfpad gewonne.

Dit het die flambojante en vurige Australiër Nick Kyrgios gister in Melbourne weer besef toe hy op die nippertjie was om sy kragmeting met die Bulgaar Grigor Dimitrov te wen om tot die kwarteindronde deur te dring.

Hy het soos van ouds op die baan sy humeur verloor en onder meer sy ondersteuningspan van die veld af uitgetrap oor sy raket nie styf genoeg gesnaar was nie.

Dimitrov het ʼn skitterende wipplank-wedstryd met 7-6 (7-3), 7-6 (7-4), 4-6, 7-6 (7-4) beklink om ʼn afspraak met die Brit Kyle Edmund, wat Kevin Anderson in die eerste ronde in vyf stelle verslaan het, na te kom.

Edmund het Andrea Seppi van Italië met 6-7 (4-7), 7-5, 6-2, 6-3 geklop om die eerste Brit (naas Andy Murray) sedert 1985 te word om tot die laaste agt deur te dring toe John Lloyd dit ook reggekry het.

“Dis altyd moeilik om teen Nick (Kyrgios) te speel en ek het twee weke gelede teen hom verloor,” het Dimitrov aan die BBC gesê.

“Hy het ongelooflik afgeslaan, hy het ongelooflik gespeel. Selfs toe ek vir die wedstryd afgeslaan het, was ek nie seker van ʼn oorwinning nie,” het Dimitrov bygevoeg.

Les nommer een, meneer Kyrgios.

Die eerste gekeurde Rafael Nadal van Spanje is ook deur nadat hy die 24ste gekeurde Diego Schwartzman van Argentinië met  6-3, 6-7 (4-7), 6-3, 6-3 geklop het.

“Dit was ʼn taai stryd. Hy is my vriend. Alle afdelings van sy spel is goed en hy is ʼn baie goeie speler,” het Nadal oor Schwartzman gesê.

Les nommer twee … heer Kyrgios.

Nadal kom nou teen Marin Čilić van Kroasië te staan, wat Pablo Carenno-Busta van Spanje uitgeskakel het.

♦  In die vroue-afdeling het Caroline Wozniacki van Denemarke steeds op die wenpad gebly en begin dit al hoe meer daarna lyk of sy met die titel kan wegstap. Daar was ook oorwinnings vir die onbesonge Anett Kontaveit van Estland en Elise Mertens van België.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anna ·

Heel reg, maar as sy span hom in die hitte van die stryd versaak, wat dan? Bly maar stil, heel jintelman soos Federer en verloor ‘n geleentheid in ‘n leeftyd? Ek neem aan Kyrgios het hulle almal na die tyd in die pad gesteek en geen sent betaal nie.

Dan vra ek, wat vorentoe vir hom? Dalk moet hy maak soos Agassy beduie, kry ‘n afrigter om jou na die volgende vlak te vat.

Rupert Ashford ·

Bietjie minder suurlemoensap? Dit maak plooie om mens se mond.

quintin ·

hi wil net noem dit is n tennis baan en nie n veld nie……krieket veld rugby veld maar n tennis baan atletiek baan……

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.