Australiese Ope: Kenin verslaan Muguruza

Droom bewaarheid! Sofia Kenin is Saterdag as die nuwe Amerikaanse Ope-kampioen gekroon. (Foto: Australiese Ope/Twitter)

Hulle noem dit die Amerikaanse droom.

Toe Sofia Kenin se pa, Alexander, aanvanklik die Sowjetunie in 1987 verlaat het om ʼn beter toekoms vir hom, sy verpleegster-vrou en Sofia in Amerika uit te beitel, het hy sekerlik nooit kon voorsien dat sy drome in 2020 waar sou word nie.

Saterdag in Melbourne kon hy al die jare van opoffering en swaarkry opsy skuif toe sy 21-jarige lieflingdogter die Australiese Ope-enkelspeltitel verower het toe sy die ongekeurde Spanjaard Garbine Muguruza met 4-6, 6-2, 6-2 in die Rod Laver-arena geklop het.

Kenin is nou die jongste speler – sedert Maria Sharapova (ook van Rusland) dit in 2008 reggekry het – om dít te vermag.

Kenin, wat as Sonya bekend staan (haar name is Sofia Anna), het as vyfjarige kleuter (sy is in in Moskou gebore) haar eerste tennisles by Rick Macci in Florida gekry en van daar af was daar net een pad: boontoe.

Volgens Macci het sy net soveel talent en deursettingsvermoë as Martina Hingis getoon en dit was geen verrassing nie toe sy ʼn paar jaar gelede as die wêreld se belowendste speler aangewys is. Sy was die eerste Amerikaner sedert Venus Williams wat dit ook jare gelede vermag het.

Die 14de gekeurde Kenin, wat as sewejarige saam met Ana Kournikova geoefen het, was Amerika se beste junior speler in die o.12-, o.14-, o.16- en o-18-afdelings. Sy het verlede jaar reeds drie WTA-enkelspeltitels gewen en ʼn baie groot toekoms word vir haar voorspel.

Een van haar grootste bates is haar afslane, veral haar tweede afslaan. Sy het Saterdag geen dubbelfoute begaan nie, terwyl Muguruza agt dubbelfoute begaan het.

Maar Kenin was in die eerste stel te gespanne en het 15 ongedwonge foute begaan. Sy het haar reggeruk en in die volgende twee stelle net agt foute begaan. Haar vermoë om elke bal te jaag en boonop terug te slaan, het Muguruza se kragte getap.

Haar groot droom is nou bewaarheid en die wêreld lê aan haar voete.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.