Australiese Ope: Roger Federer, tennislegende

Roger Federer – sy 20ste titel (Foto Twitter @BillieJeanKing)

Daar word deesdae alte maklik na goeie sportmanne as legendes verwys, maar wanneer iemand Roger Federer se naam noem, kan dit maar in die oortreffende trap gebruik word.

Dié 36-jarige Switserse legende – ja, hy is beslis ʼn legende – het Sondag in Melbourne nog ʼn stukkie tennisgeskiedenis gemaak toe hy die Australiese Ope-toernooi ʼn sesde keer gewen het.

Hy het die sesde gekeurde Marin Čilić van Kroasië met 6-2, 6-7 (5-7), 6-3, 3-6, 6-1 geklop en daarmee sy Grand Slam-toernooi-oorwinnings tot 20 opgeskuif.

Vergelyk dit maar met ander “legendes” soos Rafael Nadal (16), Pete Sampras (14), Roy Emerson en Novak Djokovic (albei 12) en Björn Borg en Rod Laver (albei 11) en enige ondersteuner sal met jou saamstem: Daar is net een Roger Federer.

“Ek is so gelukkig, dis ongelooflik,” het ’n emosionele Federer gesê en toe het die trane vryelik gevloei.

“Ek wag al lank vir dié eindstryd. Dis makliker om in die dag te speel, want wanneer dit in die aand plaasvind, het jy die hele dag om daaroor na te dink. Ek is baie bly dis verby. Dis ʼn droom wat bewaarheid is en die sprokiesverhaal duur voort,” het Federer gesê.

En sy raad aan Čilić? “Dis ongelooflik om die wêreld se derde speler te wees. Doen so voort en bereik nog meer.”

Wat Federer se prestasie besonders maak, is dat hy drie van die laaste vier Grand Slams op sý ouderdom gewen het.

Hy het sy eerste Grand Slam reeds in 2003 gewen (Wimbledon), spog met oorwinnings in 95 ATP-toernooie, 27 Meestertitels, en ses keer was hy baas in Jaareindtoernooie. Hy het ook ʼn goue medalje op ʼn Olimpiese Spele gewen en ʼn Davisbekerkroon vir Switserland.

Hy het reeds in 30 Grand Slam-eindstryde gespeel, was 43 keer in die halfeindronde en 52 keer in die kwarteindronde.

Op pad na hierdie prestasie van sy 20ste Grand Slam het hy nou reeds 331 wedstryde in dié toernooie gewen  … en dís hoekom hy die naam legende waardig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Alwyna ·

Welgedaan aan Sweet Caroline en Roger. Fenominale skitterende wedstryde

Pieter ·

Sweet Carolina is, soos Halep, ‘n Roadrunner, Kerber is ook. Kyk eerder na Navratilova, Williams, S en V, Chris Evert, Steffi Graf, Monica Seles, ook Sharapova.

Pieter ·

Wat baie jammer is, is dat Cilic na die wedstryd die stadion se dak wat hulle vir die wedstryd toegemaak het vir sy verloor blameer het.

Halep moes na die dames eindstryd op ‘n drip gaan agv dihidreer en die Aus het dit dus goed geag om die dak toe te maak om die spelers in die mans eindstryd teen die versengende hitte te beskerm.

Pieter ·

Geluk aan my ikon, Federer. Borg, egter, was die beste speler ooit, hy het die raket neergelê toe hy 25 jaar oud was. vergelyk die spelers se prestasies tot op daardie ouderdom!

Nico K ·

Ek het iewers gehoor dat Federer wel in besit is van SA burgerskap.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.