Australiese Ope: Wat maak die helikopter daar?

‘Voorbeeldige’ Nick Kyrgios deur na die derde ronde (Foto Facebook Australian Open)

Nick Kyrgios, die stoute seun van Australiese tennis, het Woensdag in Melbourne sy humeur dié keer in toom gehou en vir die derde ronde van die Australiese Ope-tennistoernooi gekwalfiseer.

Hy het Victor Troicki van Serwië met 7-5, 6-4, 7-6 (7-2) uitgeskakel.

Tydens die kragmeting het ʼn helikopter minute lank oor die stadion geluier; ʼn toeskouer het op Kyrgios geskree in ʼn poging om hom te ontstel om sodoende die voorval op video vas te lê; en die Britse skeidsregter James Keothavong se mikrofoon het die gees gegee en hy moes toe  deurentyd die tellings uitskree.

“Dit was taai, ʼn hele paar dinge het gebeur. Die ou in die skare was mal. Ek het nie heeltemal besef wat gaan aan nie. Die helikopter [was daar] en dis toe dat ek dink, ‘dis natuurlik by my wedstryd. Dit hang net daar [in die lug]. Natuurlik is dit só’,” het Kyrgios aan die BBC gesê.

Maar hy het hom nie daardeur laat ontstel nie en kom nou Jo-Wilfried Tsonga van Frankryk (15de gekeur) te staan, wat die Kanadees Denis Shapovalov met 3-6, 6-3, 1-6, 7-6 (7-4), 7-5 uitgeskakel het.

Daar was min skokke op die derde dag, hoewel die derde gekeurde Bulgaar Grigor Dimitrov baie hard moes delf voordat hy die Amerikaanse kwalifiseerder Mackenzie McDonald met 4-6, 6-2, 6-4, 0-6, 8-6 kon klop.

Die eerste gekeurde Spanjaard, Rafael Nadal, het tot die ronde van 32 deurgedring toe hy Leonardo Mayer van Argentinië met 6-3, 6-4, 7-6 (7-4) geklop het. Die sesde gekeurde Kroaat Marin Cilic is ook deur.

♦  In die vroueafdeling het Caroline Wozniacki van Denemarke (2de gekeur), Elina Svitolina van die Oekraïene (5de) en  Jelena Ostapenko (Letland, 7de) ook deurgedring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.