Australiese Ope: Wozniacki nie meer die strooimeisie nie

Caroline Wozniacki – vier haar eerste Grand Slam (Foto: Twitter @Australian Open)

Vergeet van Serena Williams, vergeet van Maria Sharapova. Saterdag se eindstryd van die vroue-enkelspel van vanjaar se Australiese Ope-tennistoernooi het al die bestanddele van ʼn riller gehad.

Dit was spannend en vol hoogtepunte, dit was bedompig en warm en Caroline Wozniacki en Simona Halep moes albei behandeling vir beserings ontvang.

Maar nie een wou skiet gee nie en het enduit bly veg.

Op die ou einde het die tweede gekeurde Wozniacki van Denemarke uiteindelik haar jarelange droom verwesenlik toe sy Halep van Roemenië, eerste gekeur, met  7-6 (7-2), 3-6, 6-4 geklop het.

Dit was Wozniacki se 43ste probeerslag en haar eerste Grand Slamtitel nadat sy in die eindstryd van 2009, en weer in 2014, van die Amerikaanse Ope onderskeidelik teen Kim Clijsters en Williams vasgeval het.

Sy is ook die eerste Deense speler wat ʼn Grand Slam-toernooi kon wen en skuif verby Halep in die eerste plek op die wêreldranglys.

Halep was voor die wedstryd nog die wêreld se voorste vrouespeler, maar bly segeloos in ʼn Grand Slam-eindstryd nadat sy twee keer in die eindstryd van die Franse Ope onderskeidelik deur Jelena Ostapenko en Sharapova geklop is.

“Ek wil Simona gelukwens. Ek weet dit is moeilik vir haar en ek is jammer dat ek moes wen, maar ek is seker dat ons voortaan nog baie teen mekaar sal speel,” het Wozniacki gesê nadat sy die wennerstrofee ontvang het.

“Dit was ʼn ongelooflike wedstryd, ʼn ongelooflike geveg. Laastens wil ek my pa bedank, wat my bygestaan het sedert ek sewe jaar oud was. Ons het ons hoogte- en laagtepunte gehad, maar hy was met elke tree daar,” het sy bygevoeg.

En watter liedjie is daar gespeel toe Wozniacki, 27, die Daphne Akhurst-trofee ‘n tweede keer gesoen het? “Sweet Caroline”.

Daar kon nie ʼn soeter oomblik vir een van die gewildste spelers in wêreldtennis gewees het nie….

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.